Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gryp in na skielike sluiting van Laerskool Tsitsikama

Die VF Plus gaan ingryp in die skielike sluiting van die Laerskool Tsitsikamma in die Oos-Kaap om ‘n nuwe hoërskool op die terrein te vestig ten koste van groot onsekerheid oor die heenkome van die huidige laerskool-leerders.

Die party is reeds in gesprek met die provinsie se LUR vir onderwys, mnr. Fundile Gade, sowel as die portefeuljekomitee in die provinsiale wetgewer in ʼn poging om ʼn oplossing te vind.

Dit is nog onseker hoeveel kinders geraak word en hoe die departement hulle gaan akkommodeer.

Wat nou in Tsitsikama afspeel, is tekenend van die krisisbestuur wat volg op die ANC-regering se versuim om in infrastruktuur vir onderwys te belê.

Volgens inligting wat die VF Plus bekom het, is kinders verlede jaar nog by die skool ingeskryf. Met vanjaar se opening van skole, het die skoolhoof, mnr. J.V. Grootboom, ouers en leerders eers in kennis gestel dat die skool binnekort sal sluit. In ‘n volgende skrywe is ouers versoek om kinders, ter wille van hul eie veiligheid, tuis te hou.

Luidens ʼn mediaberig vandag (HeraldLIVE; Confusion reigns as primary school becomes a high school) het ouers vanoggend by die skool opgedaag en daarop aangedring dat hul kinders ingeneem word.

In ‘n ander skrywe het die burgemeester van die Koukamma-munisipaliteit in Kareedouw, mnr. F.J Yake, laat blyk dat onmin oor onvoldoende hoërskoolgeriewe al sedert 1987 duur.

Volgens hom was daar gedurende November en Desember 2023 skakeling met die Oos-Kaapse onderwysdepartement en skakeling met die gemeenskap het op 12, 14, 15 en 16 Januarie 2024 plaasgevind.

Tydens hierdie vergaderings is glo besluit dat leerders en personeel van die laerskool in omringende skole opgeneem sal word.

Die VF Plus beskou hierdie optrede en kort kennisgewing as skandalig. Dit is vir laerskoolkinders belangriker om naby hul ouerhuise skool te gaan as vir ouer leerders wat reeds op hoërskool is.

Op laerskool word die grondslag vir latere onderrig gelê. Dit sou dus verkeerd wees om te redeneer dat laerskole se belange van minder belang is.

Om te verklaar dat ontwrigting deur gesprek tot die minimum beperk sal word, help nie. Die skoolgemeenskap van die Laerskool Tsitsikamma moes in die eerste plek behoorlik geraadpleeg gewees het.

Indien ‘n skoolsluiting die enigste oplossing vir ‘n krisis is, moet dit op die laatste aan die einde van die derde kwartaal bekend gemaak word.

Boonop versterk hierdie gebeure die VF Plus se teenstand teen die sogenaamde Bela-wetsontwerp.

‘n Gemeenskap sal sy eie onderwys nooit so ontwrig nie, maar vir die Oos-Kaapse onderwysdepartement is dit blykbaar aanvaarbaar. Nou wil hierdie wetsontwerp nog meer bevoegdhede aan onbevoegde departemente oordra.

Hierdie gebeure is net nog ‘n bewys waarom die ANC met die komende verkiesing verwyder moet word, sodat die VF Plus as deel van ‘n nuwe regering onderwys kan herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.