Die VF Plus het in reaksie op die indien van die Gautengse begroting vir 2025/26 in die wetgewer dit duidelik gestel dat die begroting ook voorsiening moet maak vir dienste en hulp aan minderhede in die provinsie.
Die begroting wat die LUR van finansies, Lebogang Maile, voorgelê het, verskil nie wesenlik van verlede jaar sʼn nie, behalwe vir die verhoging van die begroting met R886,6 miljoen. Die verhoging is moontlik gemaak weens die toewys van onbestede fondse en die oorverhaling van inkomste uit die vorige finansiële jaar.
Maile het dit benadruk dat die provinsiale regering dienslewering beskou as ‘n top prioriteit.
Daarom gaan die VF Plus met Maile vergader om die billike verdeling van die begroting te bespreek sodat fondse nie net op ‘n sekere groep bestee word nie. Dit is algemeen bekend dat die ANC in die provinsiale regering grootliks net fokus op swart ekonomiese en maatskaplike behoeftes.
Die behoeftes van arm wittes en bruines word oor die algemeen, met enkele uitsonderings na, oor die hoof gesien.
Die VF Plus het dus besluit om voorwaardes te stel vir die moontlike steun van die begroting. Hierdie voorwaardes is daarop gemik om die begroting inklusief te maak deur te sorg dat minderhede ook in aanmerking kan kom vir bystand vanaf die provinsiale regering.
Eerstens moet die begroting van die departement van maatskaplike ontwikkeling ook aangewend word om veral arm wit en bruin bejaardes en gestremde mense by te staan. Hierdie groep mense sukkel verskriklik om te oorleef en hulle voel asof die samelewing van hulle vergeet het. Bystand kan onder meer kom in die vorm van finansiële hulp vir die maatskaplike organisasies wat die bejaardes versorg.
In dié verband sal die VF Plus bystand verleen om die behoewende organisasies te identifiseer en hul aansoeke vir finansiële hulp monitor totdat die fondse toegeken is. Die departement van maatskaplike ontwikkeling is juis skuldig daaraan dat hy nie al sy fondse bestee het in die vorige finansiële jaar nie. Dit is ‘n groot vermorsing van fondse asook die geleentheid om die behoeftiges by te staan.
Tweedens moet die voordele van die provinsie se Township Ekonomiese Ontwikkelingswet ook beskikbaar gemaak word vir arm minderhede wat in informele nedersettings woon asook vir diegene wat in ander gebiede woon. Dit sluit onder meer in die verskaffing van ontwikkelingslenings en -toelaes, opleiding, en inskakeling by ondernemingsnetwerke. Op hierdie wyse kan hierdie behoeftiges ook vir hulself begin sorg met die begin van klein ondernemings.
Maile het juis aangedui dat die departement van ekonomiese ontwikkeling R100 miljoen sal ontvang vir die toeken van lenings aan klein-, medium- en mikro-ondernemings. Dit is net billik dat almal ‘n geleentheid kry om daarvan gebruik te maak.
Derdens moet die departemente van onderwys en infrastruktuurontwikkeling onderskeidelik daadwerklik sorg vir die bou van genoeg openbare skole asook die aanbou van klaskamers waar drukkende behoefte bestaan.
Hierdeur word ‘n belangrike behoefte van die gemeenskap sinvol aangespreek en het ook in sekere gevalle die gevolg dat die politieke druk vir toegang tot Afrikaanse – en ander nie-Engelse openbare skole – wat alreeds oorvol is – verlig word.
Vierdens moet die begroting van die nuwe departement van omgewingsake aggressief aangewend word om die geweldige toename in omgewingsbesoedeling in Gauteng hok te slaan.
Laastens moet die begroting vir gemeenskapsveiligheid ook beter bestuur word sodat die leefwêreld van arm minderhede en boere ook veiliger word.
In dié geval wil die VF Plus sien dat befondsing geoormerk word om beter samewerking tussen gemeenskappe en die polisie te bewerkstellig in die vorm van bevoegde gemeenskapspolisiëringsforums. Die VF Plus sal ook ondersoek instel na gepaste vennote in die privaatsektor wat ook befondsing sal bewillig in die vorm van openbare-privaat vennootskappe ten einde ‘n veiliger omgewing te verseker.
Die VF Plus glo dat indien die provinsiale regering wel hierdie voorstelle implementeer, dit ‘n meer inklusiewe en billike begroting daar sal stel. Tans vorm wittes en bruines ‘n groot deel van die belastingbasis, maar sien nie dat veel daarvan teruggeploeg word in hul gemeenskappe waar daar daadwerklike behoeftes bestaan nie.
Daarom sal die VF Plus moedig stry om hierdie voorwaardes vir ‘n billike begroting te realiseer.


