Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dringende onafhanklike ondersoek na herhaalde mislukkings met herstel van kritieke R40-roete

Dit is nou drie jaar sedert die swaar reënval van Februarie 2023 die R40-pad tussen Witrivier en Hazyview ernstig beskadig het en herhaalde pogings om dit te herstel, misluk.

Hierdie roete is van strategiese belang vir Mpumalanga se ekonomie aangesien dit een van die hooftoegangsroetes na die Krugerwildtuin is en veilige vervoer vir Mbombela-inwoners, boere en ondernemings verseker.

Ná drie jaar se wag en miljoene rande se belastinggeld is dit eenvoudig onaanvaarbaar dat die padoppervlak kort ná herstel weer ineenstort.

Sanral, wat die verantwoordelikheid vir herstelwerk van die Mpumalanga-provinsie oorgeneem het, gee “oormatige reën” die skuld vir die jongste skade aan die pad.

Die VF Plus het die herstelwerk egter fyn dopgehou en kan bevestig dat die nuwe skade nie hoofsaaklik aan die onlangse reën toegeskryf kan word nie.

Die padoppervlak het reeds langs die lengte van die herstelde gedeeltes gekraak voordat die reën begin het, terwyl die ompaaie, wat dieselfde reën en verkeer moes hanteer en selfs laer lê met meer waterafvloei, steeds ongeskonde en struktureel stabiel is.

Hierdie probleem wys op ernstige gebreke in die konstruksieproses wat onder meer insluit die onvoldoende kompaktering van die fondament, swak kwaliteitbeheer. Die werk van die kontrakteur en/of sy interne ingenieur, moet bevraagteken word.

Die VF Plus dring daarop aan dat ʼn neutrale ingenieur onmiddellik ʼn onafhanklike inspeksie uitvoer om die oorsake van die mislukking vas te stel.

Totdat hierdie ondersoek afgehandel is, mag geen variasiebevele vir verdere herstelwerk goedgekeur word nie.

Indien die kontrakteur aanspreeklik bevind word, moet die herstelkoste uit die retensiegeld gedek word wat die staat kontraktueel terughou en nie uit meer belastinggeld nie.

Verder moet die kontrakteur die naam van die terreiningenieur openbaar maak om moontlike belangebotsings uit te sluit.

Die VF Plus sal sy LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) versoek om toe te sien dat die nasionale en provinsiale owerhede hierdie saak prioritiseer om volle deursigtigheid te verseker.

Belastingbetalers verdien ’n veilige, duursame pad wat die ekonomiese belang van die roete in ag neem.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat hierdie kritieke roete permanent herstel is en die verantwoordelikes tot verantwoording geroep is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.