Die VF Plus het ’n mosie by die Modimolle Mookgophong-plaaslike munisipaliteit ingedien om die wetlike krisis rondom rondloperdiere en die verspreiding van dieresiektes, soos bek-en-klouseer, hok te slaan.
Die mosie eis dat die munisipaliteit onverwyld nuwe, afdwingbare verordeninge (by-laws/bywette) opstel en implementeer om die veiligheid van sowel inwoners as die plaaslike landbou-ekonomie te beskerm.
Die party beklemtoon dat die munisipaliteit as grondeienaar ’n wetlike plig het onder die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) om die verspreiding van siektes te voorkom.
Tans skep die gebrek aan gekonsolideerde regulasies sedert die samesmelting van die munisipaliteite ’n gevaarlike regs- en gesondheidsgaping.
Die voorgestelde stappe sluit in:
• Streng beheer oor rondlopervee: Die identifisering en skut van diere wat vrylik in woongebiede en op openbare paaie rondloop.
• Vestiging van skutgeriewe: Die aanstelling van ’n skutmeester en die formele bestuur van goedgekeurde fasiliteite in lyn met Provinsiale wetgewing.
• Bek-en-klouseer ondersteuning: Aktiewe munisipale ondersteuning vir nasionale inperkingsmaatreëls om die Limpopo-landbousektor teen ekonomiese ruïnering te beskerm.
• Aanspreeklikheid: Diere-eienaars wat versuim om hul vee te beheer, sal streng beboet word en aanspreeklik gehou word vir skutfooie en skade.
Daar kan nie toelaat word dat die munisipaliteit sy pligte versuim terwyl bek-en-klouseer plaaslike boere se voortbestaan bedreig nie.
Hierdie mosie dwing die administrasie om binne 60 dae met ’n konsep-verordening vorendag te kom.
Die VF Plus veg vir die beskerming van eiendomsreg, openbare veiligheid en ’n florerende landbousektor.
Die party sal die proses nougeset monitor om te verseker dat die overheid aan die voorgestelde tydlyne voldoen en dat openbare deelname deursigtig geskied.


