Die VF Plus dring daarop aan dat die JB Marks-plaaslike munisipaliteit dringende stappe neem om die voortslepende oproer in Potchefstroom in bedwang te bring.
Die party het vandag ʼn skrywe hieroor gerig aan die speaker van die munisipaliteit, mnr. Moithoesi Dassie.
Groepe inwoners ontwrig geruime tyd reeds sporadies munisipale dienslewering met protesoptrede wat soms gewelddadig raak. Die N12-hoofweg deur die dorp is tans vir die soveelste keer versper met brandende bande en klippe. Die roete na Ventersdorp is ook versper.
Beide hierdie roetes is belangrike ekonomiese lewensare – nie net vir Noordwes se ekonomie nie, maar ook vir aanliggende provinsies soos Gauteng en die Noord-Kaap.
Inwoners van Ikageng en Promosa word skynbaar ook geïntimideer om aan wegbly-aksies deel te neem. Hierdie aksies, tesame met die ontwrigting van openbare vervoer, het talle sakeondernemings in die dorp vandag lamgelê.
Dit is van kritieke belang dat die JB Marks-munisipaliteit die onderliggende diensleweringskwessies oplos wat telkens tot sulke ontwrigtende en gewelddadige protesaksies lei.
Die VF Plus sal voortgaan om die situasie te monitor en druk toe te pas sodat dienslewering in JB Marks tot ʼn bevredigende standaard herstel word.