Die VF Plus eis die onmiddellike bedanking van die burgemeester en speaker van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift).
Vir die afgelope nege dae het derduisende inwoners van Mogale City ʼn oorlewingstryd gevoer omdat die watertoevoer na talle woonbuurte heeltemal opgedroog het.
In hierdie tydperk het die burgemeester, Danny Thupane, en die speaker, Lucky Sele, nie een keer met inwoners gekommunikeer oor die krisis nie.
Daar was geen antwoorde op navrae van raadslede en inwoners nie. Daar was ook geen kommunikasie oor die verwagte tydsraamwerk waarbinne die krisis opgelos sou word nie.
Die minagting wat die burgemeester en die speaker getoon het ten opsigte van die inwoners en kiesers van Mogale City in hierdie tyd van nood, is ‘n onteenseglike bewys dat hulle niks vir kiesers voel nie.
Die VF Plus eis hiermee die onmiddellike bedanking van beide die burgemeester en speaker.