fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien klag in oor moontlike bedrog met spesiale stemme in Drakenstein

Die VF Plus het op bewyse van moontlike omvangryke bedrog met spesiale stemme in die Drakenstein-kiesafdeling afgekom en het ‘n klag daaroor by die polisie ingedien by die Paarlse polisiekantoor.

Die VF Plus se burgemeesterskandidaat vir Drakenstein, mnr. André Fourie, het die klag ingedien.

Sedert die sluitingsdatum op 4 Oktober waarop aansoek gedoen kon word om ‘n spesiale stem uit te bring, het die VF Plus inligting van beweerde ongerymdhede in Drakenstein ontvang.

‘n Bewys hiervan is gevind toe die party se kandidaat vir wyk 3, Rehan Kruger ondersoek gedoen het en met die bekendmaking van die spesiale stemlys op 28 Oktober gevind het dat selfs sy eie naam op die lys is van persone wat aansoek gedoen het om ‘n spesiale stem terwyl hyself nooit so ‘n aansoek ingedien het nie. Wyk 3 bestaan hoofsaaklik uit ‘n landelike gemeenskap.

Die lys toon aan dat 1 092 geregistreerde kiesers uit ‘n totaal van 1 110 in wyk 3 aansoek gedoen het om ‘n spesiale stem uit te bring. Dit verteenwoordig 98,38% van die kiesers.

Benewens die feit dat mnr. Kruger nie aansoek gedoen het om ‘n spesiale stem uit te bring nie, is dit duidelik dat daar ernstige ongerymdhede rondom die lys bestaan en dat daar duidelik met die spesiale stem-aansoeke gepeuter is.

Die VF Plus het die Verkiesingskommissie (OVK) in Drakenstein asook die betrokke munisipale kiesbeampte genader om kommentaar, maar het geen antwoord ontvang nie en het daarna die klag by die polisie ingedien. Die party is bewus van moontlike soortgelyke ongerymdhede in ander wyke, maar ondersoek nog die aangeleentheid en sal ook daaroor optree indien nodig.

Hierdie spesiale stemme kan reeds vandag (30 Oktober) en môre (31 Oktober) uitgebring word en indien die VF Plus se vermoedens reg is, sal dit deel wees van ‘n moontlike bedrieglike proses wat nie toegelaat kon word nie aangesien dit wel onder die betrokke OVK-amptenare se aandag gebring is.

Die VF Plus is bekommerd oor die omvang van hierdie moontlik bedrogspul en sal aanhou om dit te ondersoek om dit tot op die been oop te vlek.

Navrae: 072-195-6581

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.