Die VF Plus betreur die afsterwe van ‘n geliefde raadslid en kollega, mnr. Koos Pienaar, wat op Maandag, 9 Augustus, aan Covid-19 oorlede is. Mnr. Pienaar is gebore op 6 Februarie 1949.
Mnr. Pienaar dien sedert 2011 op die Masilonyana-munisipale raad as raadslid van die VF Plus. Sy ervaring en betrokkenheid in die raad en in sy gemeenskap gaan baie gemis word.
Hy was lid van die VF Plus se federale raad, voorsitter van die federale finansieskomitee en lid van die party se federale dagbestuur.
Mnr. Pienaar het homself onderskei as ‘n eerbare leier wat goeie verhoudings met sy kollegas en politieke opponente opgebou het.
Hy het altyd in belang van die gemeenskap opgetree en was tot onlangs toe nog hard aan die werk om munisipale diensleweringsprobleme aan te spreek. Sy harde werk was deurslaggewend om ‘n middelweg-ooreenkoms oor erfbelasting te bewerkstellig tussen die munisipaliteit en boere van die omgewing.
In Koos se eie woorde het sy ‘lewe bestaan uit diensleweringsaksies, plaaslik, provinsiaal, nasionaal en internasionaal.’
Koos Pienaar was ‘n gemeenskapsman en hy het gelewe om vir die mense te werk en diensbaar te wees. Hy was hulpvaardig en het opgedaag met ‘n gees van omgee.
Die wêreld sal ‘n beter plek wees as ons almal soos mnr. Pienaar hul eie belange ondergeskik stel aan die gemeenskap se behoeftes en probleme.
Hy was ‘n sagmoedige reus en sy karakter en leierskap sal gemis word. Sy afsterwe laat ‘n groot leemte onder die mense wat hy bedien het en onder kollegas in die party.
Die party spreek sy innige simpatie uit met sy vrou Ina, sy seuns, Monte en Conrad, en sy twee dogters, Anje en Madeleine. Mag die Hemelse Vader die gesin en familie in hierdie hartseer tyd omarm en vrede gee.