Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die betalingsmikpunt vir munisipale diensterekeninge in die Ekurhuleni-metro nie bereik sal word nie weens beurtkrag wat krag- en waterverbruik verminder.
Dit sal ‘n negatiewe effek hê op die metro se finansies aangesien enige tekorte vanuit ander programme gefinansier sal moet word.
Die VF Plus het vanuit die jongste verslag van die finansiële oorsigkomitee vasgestel dat slegs 86% van alle dienstegelde ingevorder is terwyl die wettig voorgeskrewe mikpunt 95% is. Die metro het wel sy eie mikpunt van 83% oorskry, maar val steeds kort van die statutêre voorskrif.
Die verslag stel dit duidelik dat beurtkrag die grootste oorsaak van die onderverhaling vir krag en water is. Beurtkrag veroorsaak dat minder krag aangekoop word en het uiteindelik ook ‘n effek op waterverskaffing.
Dit blyk ook uit die verslag dat daar min kragopwekkers by die meeste waterpompe in die metro is.
Daarby veroorsaak beurtkrag dat die munisipale kantore waar inwoners hul rekeninge moet betaal, ook gereeld sonder krag is wat betalings bemoeilik.
Die VF Plus, as koalisievennoot in die Ekurhuleni-metroraad, gaan versoek dat die installering van kragopwekkers by waterpompe en munisipale kantore oorweeg word.
Die VF Plus neem ook met instemming kennis dat die metro se administrasie wel krag begin afsny van kliënte wat nie hul betalingsverpligtinge nakom nie.
Ekurhuleni het nogtans ‘n nuwe holistiese kragplan nodig wat die metro minder afhanklik van Eskom sal maak.
Die VF sal voorstelle in dié verband aan die metro voorlê.