Pensionarisse in Johannesburg het rede om verheug te wees nadat ‘n voorstel deur die VF Plus vir verdere belastingverligting goedgekeur is.
Tydens ‘n onlangse bosberaad waar stadsraadslede die 2018/19-begroting bespreek het, is ‘n voorstel van die VF Plus aanvaar om die afsnypunt van 100% korting op ‘n eiendom vanaf R2 miljoen na R2.5 miljoen te verhoog.
Dit geld vir pensionarisse vanaf 70 jaar en ouer. Die eiendomswaarde word volgens die nuutste munisipale waardasierol bepaal.
Hierdie voorstel is Dinsdag tydens die stad se 2018/19-begroting goedgekeur.
"Die party het reeds in 2013 ‘n groot deurbraak gemaak toe ‘n voorstel die eerste keer aanvaar is om belastingkorting aan bejaardes toe te staan. Die afsnypunt was R2 miljoen en minder," sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid en lid van die veelparty-regering in Johannesburgse-metroraad.
"Hierdie besluit is beslis ‘n oorwinning vir dié party en bewys weer hoe die VF Plus in sy posisie as lid van die veelparty-regering in Johannesburg ‘n verskil aan die welstand van inwoners kan maak.
"Pensionarisse, wat vir die korting kwalifiseer, word aangemoedig om by hul naaste munisipale kantore te gaan registreer," sê De Lange.