Debat in parlement oor Verdeling van Staatsinkomste (begroting)
"Dit klink na ’n gebreekte plaat om jaar na jaar te sê hoe sleg dit gaan by munisipaliteite en hoe infrastruktuur verval, maar dit moet gesê word aangesien dit die punt bereik het waar mense swaarkry en sterf," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van finansies.
"Dit is daarom onmoontlik om te praat oor die verdeling van staatsinkomste tussen die drie sfere van die regering sonder om te verwys na die toestand van plaaslike regering.
"Mense sterf weens die toestand van paaie, hospitale en klinieke. Hulle ly omdat rioolaanlegte stukkend is, krag- en watertekorte waarvan laasgenoemde in sommige dorpe reeds vir drie jaar voortduur.
"Nou het die ANC-regering weer die idee van die distriks-ontwikkelingsmodel wat kwansuis die munisipale krisis sal oplos. Net soos die “Back-to-Basics”-model voorgehou is as die wonderkuur wat die probleem sou oplos. Dit het nie.
"Die distriks-ontwikkelingsmodel sal misluk omdat dit selfs meer gesentraliseerd is as die huidige model wat juis onwerkbaar is omdat besluitneming oor dienslewering so ver van inwoners is.
"Blaamverskuiwing en onwerkbare planne oor munisipale verval sal net die probleem vererger. Hierdie is ’n ANC-geskepte probleem. Dit is nie geskep deur Covid-19 nie en apartheid kan lank nie meer die skuld kry nie."
"Terwyl paaie en waterwerke verval, word toekennings weens onbevoegdheid nie gebruik nie en gaan dit terug na die nasionale tesourie. Jaar na jaar. Op munisipale en provinsiale vlak.
"Geld wat wel aangewend word, gaan dan grootliks verlore weens diefstal en korrupsie met kader-kontrakteurs aan die spits van hierdie stropingstog.
"Geld word vermors op instellings wat die ANC vernietig het, soos die SAL, die Landbank en ander. Dit is geld wat gebruik kon word om alles wat besig is om te veral, te red.
"Dit is tyd vir introspeksie in die ANC, want wat in die land gebeur is ’n skande. Die regering en sy beleid laat die mense van die land in die steek.
"Dit is tyd vir nuwe regering op alle vlakke, en met die plaaslike verkiesing later vanjaar is die geleentheid daar om op munisipale vlak van die ANC ontslae te raak," sê Wessels.