Die VF Plus kon vandag nie stem vir ‘n gesamentlike verslag van die parlement se portefeuljekomitees vir polisie en landbou oor die situasie rondom plaasaanvalle nie.
Die verslag was veronderstel om te handel met ‘n petisie waarin gevra is dat die parlement plaasmoorde en -aanvalle op die landbougemeenskap moes ondersoek.
Die enkele positiewe aspekte in die verslag word ongedaan gemaak deur verskeie mistastings en aannames wat boere selfs in die algemeen beskuldig dat hulle werkers só swak behandel dat dit op ‘n menseregteskending neerkom.
Die komitees het veral in hierdie opsig afgedwaal van die onderwerp van die petisie van PPS STOP Farm Killings (NPC) en Agri-Alert SA waarin die Nasionale Vergadering (NV) versoek is om die voortdurende aanvalle op boerderygemeenskappe te ondersoek.
Dié ondersoek moes gedoen word “met die klem op kommer oor landelike veiligheid, plaasmoorde en die impak van hierdie misdaad op voedselsekerheid en die landbou-ekonomie”.
In teenstelling hiermee het die komitees besluit om aan te beveel dat geteikende toesigbesoeke aan landbougebiede gedoen word wat moet fokus op die “aard en omvang van geweld teen plaaswerkers.
Dit sluit in “beweerde menseregteskendings soos intimidasie, vernedering en mishandeling deur plaaseienaars”.
‘n Verdere mistasting is dat erkenning gegee is aan die feit dat die “unieke aard” van plaasmoorde erken moet word, aangesien dit dikwels gekenmerk word deur “uiterste brutaliteit en oormatige, uiterste geweld. Ook dat dit dikwels vooraf beplan word. Ten spyte hiervan word plaasmoorde nie as ‘n prioriteitsmisdaad beskou of verklaar nie. Die komitee beskou ook nie plaasmoorde as ‘n spesiale misdaad wat ook so hanteer behoort te word nie.
Daar word ook geen melding in die verslag gemaak van die opruiende uitsprake soos “Kill the Boer, Kill the Farmer” nie, wat nog gesê om dit te veroordeel.
Die tyd het aangebreek dat daar ook ag geslaan word op die mening en gevoel van die slagoffers van hierdie dreigemente en daar nie geskuil word agter die ideologiese versinsels van die opswepers nie.
Dit is vir die VF Plus verbasend en onrusbarend dat die DA vandag wel vir hierdie verslag in die parlement gestem het.


