fbpx
Vryheidsfront Plus

Vaalrivier-herstelplan kan lei tot volhoubare toerisme

Die minister van toerisme, Patricia de Lille, het gister tydens ‘n besoek aan toerisme-oorde in Parys en omstreke onderneem om ‘n volhoubare herstelplan vir toerisme te steun.

Dit is in reaksie op groot skade wat onlangse vloede aan oorde op die oewer van die Vaalrivier aangerig het.

Die besoek het op uitnodiging van die VF Plus plaasgevind. Die minister het tydens ter plaatse besoeke aan verskeie oorde eerstehands die enorme skade aan die oorde ervaar.

Die minister is ook toegelig oor die omvang van nie net die fisiek waarneembare skade nie, maar ook van die negatiewe rimpeleffek op werkskepping en die plaaslike ekonomieë in die geraakte gebiede vanaf Gauteng tot in die Noord Kaap.

Gemeenskappe aangrensend tot die Vaalrivier is grootliks afhanklik van toerisme- en landbou-aktiwiteite vir ekonomiese oorlewing.

Die VF Plus het ook ‘n vergadering tussen geraakte belangegroepe en die minister gefasiliteer tydens die besoek.

Daar is tydens die vergadering ooreengekom om eerstens ‘n praktiese herstelplan op te stel vir spoedige implementering. Die onderskeie belangegroepe sal gesamentlik strategiese beplanning doen vir die implementering vir die “Vaalrivier-herstelplan”.

Die plan sal vroeg in Julie aan die ministerie voorgelê geword in ‘n opvolgvergadering in Bloemhof in Noordwes.

Die doelwit van die plan is om verligting te bring vir toerisme-ondernemings wat skade gelei het om onder meer werkverliese te beperk en om ‘n bloudruk te ontwikkel vir die volhoubare herstel van die toerisme-sektor aan die oewers van die Vaalrivier.

Die minister het onderneem om met die pas aangestelde minister van elektrisiteit, Sputla Ramokgopa, in verbinding te tree om ‘n moontlike grasie vir die geraakte toerisme-ondernemings te beding om vir ‘n tydperk verlaagde diensfooie aan Eskom te betaal totdat hulle weer ‘n inkomste kan genereer.

Die VF Plus verwelkom minister De Lille se praktiese aanslag en bereidwilligheid om met die plaaslike belangegroepe saam te werk en in te gryp by die huidige krisis, sowel as om die volhoubare ontwikkeling van die toerisme-sektor in die geraakte gebiede teweeg te bring.

Die VF Plus sal voortgaan om ‘n konstruktiewe bydrae te lewer tot die beskerming en ontwikkeling van die toerismesektor om te verseker dat die potensiaal van die sektor ten volle ontsluit word tot voordeel van die land.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.