"Daar hang te veel kwelvrae rondom die aanstelling van me. Dikeledi Ntlatseng as nuwe uitvoerende direkteur van die polisiewaghond, die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod). Die grootste hiervan is ‘n gebrekkige keuringsproses waar Ntlatseng nie oor dieselfde kam geskeer is as ander kandidate nie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Waar ander kandidate se aansoeke afgekeur is op grond van die feit dat hulle nie ondersoekende ondervinding het van polisieverwante sake nie, is Ntlatseng se aansoek nie net goedgekeur nie, sy is ook aangewys as die nuwe hoof van Opod.
"Soos Opod se naam aandui, moet die direktoraat totaal onafhanklik kan funksioneer sonder enige inmenging van die regering. Dit is baie belangrik vir die publiek van Suid-Afrika om ‘n onafhanklike waghond te hê wat hulle kan beskerm teen wangedrag van die polisie."
"Die publiek moet daarom seker wees dat die hoof van Opod op geen manier deur die polisie gemanipuleer kan word nie. Die omstandighede rondom Ntlatseng se aanstelling kan die publiek tereg laat vra of dit wel die geval is.
"Van die 24 name van aansoekers wat voorgelê is aan die polisie se parlementêre portefeuljekomitee, het talle goeie kwalifikasies en indrukwekkende CV’s gehad, maar hulle is afgekeur oor ‘n gebrek aan ondersoekende ondervinding."
"Ntlatseng het geen ondervinding op hierdie gebied nie. Haar CV dui ook aan dat sy net gewerk het tot April 2017. Sy was dus lank werkloos.
"Die VF Plus kan nie die aanstelling steun nie aangesien die omstandighede die indruk wek dat sy gemanipuleer kan word. Dit is nie in die beste belang van die publiek van Suid-Afrika nie," sê Groenewald.