fbpx
Vryheidsfront Plus

Swak ouditbevinding bewys dat ANC Dihlabeng in die grond in bestuur het

Herhaaldelike swak ouditbevindings van die ouditeur-generaal (OG) wys die ANC is besig om die Dihlabeng-plaaslike munisipaliteit in die grond in te bestuur.

Volgens die OG kry die munisipaliteit, wat Bethlehem, Fouriesburg, Paul Roux, Clarens en Rosendal bedien, vir vyf jaar agtereenvolgens ‘n gekwalifiseerde oudit omdat die ouditaksieplan om vorige ouditbevindinge in werking te stel, nie uitgevoer word nie.

Die munisipale bestuur implementeer ook nie die nodige kontroles en voldoende finansiële bestuur nie.

Dit is uiters kommerwekkend dat die munisipaliteit geen prestasie-evalueringsprosedure vir personeel in plek het nie. Dit is duidelik te sien aan die kwaliteit van dienslewering wat die gemeenskap van Dihlabeng ontvang.

Die munisipaliteit versuim, soos by elke ander regeringsdepartement en munisipaliteit in die land waar die ANC aan bewind is, om persone vir ongerymdhede en misdrywe aanspreeklik te hou.

Daar is geen poging aangewend om die vrugtelose en verkwiste of ongemagtigde uitgawes vir die 2021/2022-boekjaar te ondersoek nie.

Gevolglik kom amptenare wat hierdie uitgawes aangaan, met moord weg.

Hierdie uitgawes beloop R41 miljoen en R276 miljoen onderskeidelik. Die munisipaliteit se onreëlmatige uitgawes vir die afgelope boekjaar beloop R256 miljoen. Dit het geweldig toegeneem oor die afgelope vyf jaar.

Dihlabeng se finansiële posisie raak jaarliks meer beroerd en daar word duidelik geen poging aangewend deur die munisipale bestuur of die regerende ANC om dit reg te stel nie.

Die waterverlies vir die afgelope boekjaar – hoofsaaklik weens lekkasies en swak infrastruktuur – het sowat R37,2 miljoen beloop in ‘n munisipaliteit wat onder waterbeperkings en ernstige watertekorte en -onderbrekings gebuk gaan.

Dit, tesame met uitstaande Eskom-skuld van sowat R726 miljoen en ‘n netto verlies van R179 miljoen, wek ernstige kommer oor die munisipaliteit se status as ‘n lopende saak.

Die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, mnr. Mxolisi Dukwana, het onlangs ‘n ondersoek ingevolge artikel 106 van die Munisipale Stelselswet laat doen om onder meer bewerings van spookwerkers in die munisipaliteit te ondersoek.

Hierdie ondersoek is glo afgehandel, maar die bekendmaking van die verslag sloer al ‘n geruime tyd.

Dit laat die vraag ontstaan of die spreekwoordelike blik wurms in die munisipaliteit nie groter is as wat aanvanklik vermoed is nie.

Te oordeel aan die groeiende gemors waarin die munisipaliteit se finansiële bestuur verkeer, is dit waarskynlik die geval.

Die VF Plus het aan die LUR geskryf en versoek dat die artikel 106-ondersoekverslag nou bekend gemaak word.

Die party sal ook die Dihlabeng-munisipaliteit met sy verskyning voor die provinsiale wetgewer se komitee oor openbare rekeninge voor stok kry oor die swak, onveranderde ouditmening en die redes wat die OG daarvoor geïdentifiseer het.

Die mense van Dihlabeng verdien beter as die onbevoegde, oneerlike en selfdienende ANC-regering.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.