Die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton, Morgenzon) het eindelik nΓ‘ volgehoue druk van die VF Plus hierdie week begin om verouderde en stukkende stormwaterpype in Standerton te vervang.
Dit volg na jare lange en aanhoudende oorstromings in veral Coligny- en Leydsstrate.
Die Kieser-reservoir het vir etlike jare pal oorstromings in die omliggende strate veroorsaak waartydens huiseienaars waterskade aan hul erwe en huise opgedoen het.
Die onvoldoende kapasiteit van die ou stormwaterpype en verstoppings het dit moeilik gemaak vir oortollige water om weg te vloei, wat die situasie in ‘n aanhoudende nagmerrie vir inwoners laat ontaard het.
Die pas geΓ―nstalleerde stormwaterpype sal na verwagting oortollige water doeltreffend hanteer en die risiko van toekomstige oorstromings in veral Leydsstraat aansienlik verminder.
Die opgegradeerde infrastruktuur kom net betyds, aangesien die nuwe Kieser-reservoir binnekort voltooi sal wees. Sodra dit in werking gestel en volledig operasioneel is, behoort die reservoir die oorloopkwessies wat die gebied vir jare geteister het, op te los.
Daar word gretig gewag op die finale inbedryfstelling van bogenoemde reservoir, wat heelwaarskynlik ‘n einde aan voortslepende waterprobleme sal bring.
Die VF Plus verwelkom die daadwerklike optrede van die munisipaliteit, aangesien die probleem onaanvaarbaar lank voortgeduur het. Dit is verblydend dat hierdie noodsaaklike opgradering deurgevoer is.
Die VF Plus sal aanhou om te veg vir die regte van die gemeenskap, en verseker dat dienslewering in die munisipaliteit geskied.