Pres. Cyril Ramaphosa het vandag wel die Bela-onderwyswet onderteken, maar druk vanuit verskeie oorde en die rol van partye soos die VF Plus in die regering van nasionale eenheid (RNE), het daartoe gelei dat daar vir nog drie maande gesprekvoering gaan wees voordat die wet in werking gestel word.
Die VF Plus verwelkom die besluit van die president.
Dit beteken dat die wet se omstrede artikels en bepalings wat taalregte ernstig bedreig, veral omdat dit besluitneming oor skole se taal- en toelatingsbeleid in die hande van provinsiale onderwysdepartemente plaas, tot dan op ys gesit word.
Die party het hierdie week in gesprekke met die president oor Bela, sy posisie in die RNE gebruik om sy teenkanting teen Bela uit te spreek.
Die party sal ook in die konsultasieproses oor die volgende drie maande as deel van die RNE sy invloed gebruik om die gewraakte bepalings reg te stel in die belang van almal wat moedertaalonderrig aanbetref.
Die wet is voor die verkiesing op ‘n oorhaastige wyse deur die parlementêre proses gejaag en die feit dat elektroniese onderwysmodelle glad nie eens genoem word nie, maak dit reeds van die aanvang verouderd.
Die wet sal tot onnodige onsekerheid en dispute lei oor reeds duidelik vasgestelde regte en verpligtinge rakende basiese onderwys. Verder word die erkenning van die reg tot tuisonderrig deur burokratiese vereistes ondermyn.
Die VF Plus sal in die komende gesprekke alles in sy vermoë doen om die uitvoering van die gewraakte gedeeltes te beperk.
Die DA-minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, sal daarna die verantwoordelikheid hê om seker te maak dat regulasies wat ingevolge die wet uitgevaardig word, só geskryf word dat dit die beleid met betrekking tot skole se taalbeleid en inmenging in die bestuursake van skole, regstel.
Die VF Plus sal, soos in hierdie geval sy posisie in die RNE deurgaans gebruik om te veg vir die belange van alle Suid-Afrikaners.