Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sol-Tech en Akademia: Verwarring bemoeilik redelike gesprek

"Mediaberigte rakende die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, Blade Nzimande, se verklaring oor die Akademia-kampus wat tans in Centurion in aanbou is, bevorder nie redelike gesprek oor die aangeleentheid nie. Sy eie woorde ook nie," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van hoër onderwys.

"In die uitnodiging na 'n mediakonferensie word gestel dat die minister oor die nuwe "Sol-Tech University campus" sou praat. In sy toespraak het dr. Nzimande gesê hy reageer op mediaberigte dat "Solidariteit, verwant aan AfriForum" besig is met konstruksie aan 'n universiteitskampus in Centurion.

"Daarna het hy na drie sake verwys: Dat die Grondwet enigiemand die reg gee om 'n instelling van hoër onderwys te bou en in stand te hou; dat so 'n instelling onder huidige wetgewing nie 'n universiteit genoem mag word nie en dat taal nie as 'n manier gebruik mag word om mense uit te sluit nie.

 

"In werklikheid is Sol-Tech 'n geregistreerde kollege vir beroepsonderwys wat reeds sedert 2006 ambagslui oplei, terwyl Akademia 'n geregistreerde hoër onderwys-instelling is wat reeds graadkursusse aanbied en nêrens na homself as 'n universiteit verwys nie."

 

"Dit is Akademia wat tans aan uitbreiding van sy geriewe werk. Beide is inderdaad inisiatiewe van die Solidariteit Beweging.

"Die problematiese deel van die minister se uitspraak, is sy waarskuwing dat dit ongrondwetlik sal wees as enigeen op grond van taal uitgesluit word. Beteken dit dat alle onderwysinstellings Engels as onderrigmedium moet hê en dat Engels per definisie niemand uitsluit nie?

"Artikels 30 en 31 van die Grondwet waarborg die reg om taal en kultuur te gebruik en te beoefen, ook op georganiseerde vlak – hoewel nie op 'n manier wat met die Handves van Regte bots nie. Indien die vereiste dat iemand wat aan 'n Afrikaanse instelling wil studeer Afrikaans magtig moet wees met die Handves van Regte bots, is die betrokke grondwetlike artikels waardeloos.

"Hierdie is belangrike kwessies rakende die vertolking van die Suid-Afrikaanse Grondwet, met belangrike praktiese betekenis," sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.