"Die VF Plus steun die oproep van ekonome soos prof. Jannie Rossouw en andere wat vra dat alle parlementslede (LP’s) ondersoek moet word om te bepaal of hulle enige skenkings ontvang het van omstrede maatskappye soos Steinhoff, Bosasa of enige maatskappy wat met die Guptas verband hou," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"So ‘n ondersoek behoort uitgebrei te word om, buiten skenkings, ook vas te stel of LP’s enige sake met van hierdie maatskappye gedoen het.
"Hierdie inligting moet openbaar gemaak word sodat die publiek kan kennis neem van watter politici van watter politieke partye baat gevind het by die maatskappye."
"Ek het self geen skenking of enige ander voordeel ontvang van enige van die maatskappye nie en sal ‘n ondersoek doen om vas te stel of enige van die VF Plus se parlementslede met die maatskappye bande gehad het of enige voordeel of skenkings ontvang het.
"Die publiek moet weet watter verbintenisse LP’s het of gehad het met instellings wat tot nadeel van die belastingbetaler optree.
"Dit moet gedoen word om seker te maak dat sulke instellings nie met sagte handskoene hanteer word indien dit sou gebeur dat hulle voor die parlement verantwoording moet doen vir hul bedrywighede nie," sê Groenewald.