Die Relebogile Sekondêre skool in Khutsong in Carletonville moes gisteroggend sy deure amptelik sluit nadat ‘n sinkgat onder die ablusieblok gevorm het.
Geen leerlinge was by die skool toe die sinkgat gevorm het nie aangesien leerders drie dae gelede geweier het om verder klasse by te woon weens die ondraaglike hitte in die tydelike klaskamers.
Die VF Plus is sedert gister op die toneel waar Gauteng se departement van onderwys die Merafong-plaaslike munisipaliteit en ander belanghebbendes vergader het om ‘n oplossing vir die probleem te vind.
Tydens ‘n vergadering vandag is besluit om geografiese ingenieurs na die skool te stuur om vas te stel of die grondformasie stabiel is en om alle ondergrondse waterpypleidings te ondersoek.
‘n Heining gaan ook om die sinkgat aangebring word.
Die departement van onderwys sal intussen vergader om oor die toekoms van die leerders te besluit.
Die VF Plus is bekommerd oor die veiligheid van die leerders en het die departement versoek om die leerders so spoedig moontlik tydelik te hervestig.
Die party het sy wetgewerlid, Kobus Hoffman, ook versoek om die saak dringend met die LUR vir menslike nedersettings en infrastruktuur, Lebogang Maile, op te neem.


