fbpx
Vryheidsfront Plus

Skande dat hof basiese regte moet afdwing

Dit is ‘n skande dat inwoners hul na die hof moet wend om toe te sien dat munisipaliteite gehoor gee aan die gemeenskap se basiese regte, soos dienslewering en die reg op ‘n gesonde omgewing, het Karlien Venter, VF Plus-raadslid in die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit (Groot Marico en Zeerust) gesê.

Venter het verwys na ‘n hofbevel wat deur mnr. Thomas Venter, ‘n inwoner van die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit, wat onder andere Zeerust en Groot Marico insluit, teen die munisipale bestuur verkry is ten einde die munisipaliteit te dwing om ‘n rioollek in die straat waar Venter woon te herstel.

Voorts het die munisipaliteit ook nie op die aanvanklike hofbevel ag geslaan nie en eers gereageer op ‘n minagtingsbevel wat aan die munisipale bestuur 7 dae gegee het om op die oorspronklike bevel te reageer.

“Die munisipale bestuur het nie net hulself skuldig gemaak aan minagting van die hof nie, maar het deur hul optrede ook hul totale minagting van die inwoners en belastingbetalers van die munisipaliteit se basiese reg op dienslewering en op ‘n gesonde en volhoubare omgewing laat blyk.

“’n Verdere klap in die gesig vir die belastingbetaler is natuurlik ook dat die munisipaliteit nou die koste van die aansoek moet delg met belastingbetalersgeld.

“Die land se munisipaliteite gaan gebuk onder die wanbestuur en onbevoegdheid van die ANC-regering. Kaderontplooiing, korrupsie en die algehele argeloosheid van die regerende party het daartoe gelei dat inwoners hul basiese regte, soos in die Grondwet verskans, nou deur middel van hofbevele moet afdwing en, soos in hierdie geval, word sodanige bevele dikwels geminag deur munisipale bestuur. Dit is onaanvaarbaar,” het Venter gesê.

 

Kontakbesonderhede: 073 200 3309 / 079 409 8342

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.