Die VF Plus is ernstig bekommerd oor die toename in rioolstorting in die see om Kaapstad wat ʼn groeiende omgewingsgevaar inhou, veral wanneer pompstasies onklaar raak soos verlede week by Seepunt.
Daar word te lank reeds voete gesleep om ʼn oplossing hiervoor te vind en met die metro se snel groeiende bevolking sal daar vinnig opgetree moet word voordat die situasie ʼn groot gesondheidskrisis veroorsaak.
Luidens ʼn mediaberig vroeër vanjaar (12 Februarie 2024; Moneyweb: Cape Town’s ocean-bound sewage options unveiled), het Kaapstad verlede jaar reeds daagliks sowat 32 miljoen liter rou of onbehandelde riool in die see gepomp.
Die plekke wat veral geraak word, is Groenpunt, Seepunt en Houtbaai. By Kampsbaai word luidens die berig sowat 2 miljoen liter riool daagliks die see in gepomp.
Die strande in hierdie gebiede word jaarliks deur miljoene mense besoek en die groeiende risiko vir almal in die omgewing spreek vanself.
Om te ontken dat dit ʼn ernstige probleem is, sou oneerlik wees en ʼn poging om die publiek op ʼn valse wyse gerus te stel.
Die feit dat die stad die watergehalte in die Atlantiese Oseaan om Kaapstad gereeld monitor, wys dat daar in werklikheid geen twyfel bestaan oor die besoedelingsgevare nie.
Ná die voorval verlede Woensdag toe een pomp by Groenpunt onklaar geraak het, kon die oorblywende pompe nie die groot volumes riool oor die spitstye hanteer nie.
Dit is totaal onaanvaarbaar aangesien dit ʼn absolute gegewe is dat masjinerie soos pompe van tyd tot tyd onklaar sal raak en om dan geen onmiddellike noodplan in plek te hê nie, is onverskillig.
Soortgelyke probleme is in die onlangse verlede ook in Houtbaai en sommige ander stortingsgebiede ondervind. Dit begin duidelik ʼn gereelde verskynsel raak wat daarop dui dat die bestaande stelsel nie meer voldoende is nie.
Kaapstad pomp riool jare reeds die see in en ʼn uitvoerbaarheidstudie het vroeër vanjaar aangetoon dat dit sowat R8 miljard sal kos om nuwe suiweringsaanlegte te bou of die riool deur ʼn pypstelsel na bestaande aanlegte te herlei.
Die stadsraad het verlede week sy 2024-strategie vir waterbestuur goedgekeur om meer befondsing van die nasionale tesourie te bekom om met waterbestuur in die stad te help.
Die VF Plus wil die Stad Kaapstad versoek om erns te maak hiermee. Die huidige infrastruktuur is lank reeds vervalle en ontoereikend en daar moet onmiddellik met die werk begin word.
Die VF Plus sal die situasie monitor en voorstelle aan die betrokke portefeuljekomitee voorlê.
Kapenaars se belastingskale is reeds buitensporig hoog en dit is bekend dat net ʼn klein aantal mense bydra tot die stad se belastingpoel. Hierdie getroue en swaar belaste inwoners verdien beter van die stad se DA-regering as ʼn rioolbesoedelde see om in te swem.