Die Johan Koen-voëlpark in Pretoria-Noord, ’n inisiatief van die VF Plus, sal eersdaags sy deure vir besoekers open.
Dit is ʼn geregistreerde, nie-winsgewende organisasie met die visie om nie net die omgewing te bewaar nie, maar ook om ʼn bydra tot geestesgesondheid te lewer. Finalisering van die gemeenskap-distrikopheffingsprogram (CUP) is die enigste uitstaande faktor om hierdie voëlpark moontlik te maak.
Die idee vir dié voëlpark het ontstaan nadat ʼn brand by die Hillside-gholfbaan verskeie voëls se habitat vernietig het. Die VF Plus het saam met Wildlife Suid-Afrika gewerk om die voëls te red insluitend ʼn gesin kolganse wat in die strate rondgedwaal het.
Die kolgans-familie het ʼn tuiste gevind in die Johan Koen-dam. Dié gebeurtenis was ’n inspirerende faktor om die voëlpark in Pretoria-Noord te begin. Pieter Dicks, die Tshwane-metro se direkteur van parke, was dadelik opgewonde oor die idee. Dinah Shopa van natuurbewaring is ook aan boord.
Daar is besef dat die voëlpark nie net vir natuurbewaring gebruik kan word nie, maar ook as ’n plek waar mense kan ontspan en ontsnap van hul daaglikse probleme.
Die Johan Koen-voëlpark sal huisvesting bied aan verskeie voëlspesies, insluitend waterhoenders, kolganse en slangnekvoëls.
Veiligheidsmaatreëls is in plek gestel om die park te beskerm. Die park sal ook deur borgskappe ondersteun word en verskeie groot maatskappye in die Pretoria-Noord-omgewing het reeds belangstelling getoon.