Die moord op mnr. Hendrik Venter van Kuruman laat weer die lig val op die oormatige geweld in dié soort misdaad. Die VF Plus se gebede gaan na mnr. Venter se geliefdes uit.
Hoewel Kuruman as ʼn misdaadbrandpunt in die Noord-Kaap bekend is, is plaasaanvalle steeds ʼn seldsame voorval wat skokgolwe deur die gemeenskap stuur – selfs deur die hele provinsie.
Die feit dat mnr. Venter gery het om lone te betaal en dat die kontant daarvoor vermis word, kan tot die gevolgtrekking lei dat die motief vir die aanval ʼn blote rooftog is. Die vraag is waarom dit nodig was om sy lewe te neem.
Indien vier mense ʼn bejaarde van 81 by ʼn hek inwag, kan hulle seker enigiets van hom afneem sonder om hom te vermoor. Mediaberigte noem byvoorbeeld nie dat ʼn vuurwapen vermis word of gebruik is nie.
Die politieke klimaat in die land, aangeblaas deur ʼn eensydige weergawe van die land se geskiedenis, kan met hierdie soort oormatige geweld in verband staan.
Terwyl die VF Plus sy meelewing met mnr. Venter se geliefdes betuig, verdien die polisielede vermelding vir hul flinke optrede om die vermeende moordenaars vinnig aan te keer.
Ongelukkig kom dit eers ná die moord en die VF Plus herinner boere daaraan dat hulle, weens die aard van hul werk, reeds ʼn sagte teiken is. Daarom moet hulle alle moontlike stappe neem om hulself te beveilig.