Ramphulp vir boere in die Oos-Vrystaat na die afgelope ruk se wegholveldbrande is nou broodnodig om die nood te verlig.
Sterk winde het Donderdag aanleiding gegee tot minstens nege wegholveldbrande wat duisende hektaar weiveld en landerye verwoes het. Veral die Memel-, Verkykerskop en Vrede-gebied is geraak.
Boere in die gebied het hul bes probeer om die veldbrande in bedwang te bring. Die brande het duidelik uitgewys dat die distriksmunisipaliteite se brandbestrydingsdienste nie op standaard is om die nodige bystand te verleen nie.
Dieselfde plekke het die vorige naweek erge sneeuval en koue beleef.
Die VF Plus het gister dringend in gesprek getree met die LUR vir landbou en omgewingsake, me. Elzabé Rockman, om te vra dat daar so gou as moontlik rampverligting aan boere verskaf word.
Die VF Plus sal ook die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Saki Mokoena, versoek om die betrokke gebiede tot rampgebiede te verklaar.
Me. Rockman het twee maande gelede die Oos-Vrystaat besoek om die brandgeteisterde Golden Gate-gebied eerstehands te ervaar. Sy het ook met boere oor hul probleme en behoeftes gepraat.
Die party sal ook in die Vrystaatse wetgewer se betrokke portefeuljekomitee vra dat ondersoek ingestel word na die tekortkominge in distriksmunisipaliteite se rampbestuurplanne.
Intussen is dit dringend noodsaaklik dat die provinsiale regering die nodige ramphulp aan boere verskaf.
Die VF Plus betuig sy meegevoel met diegene wat lewensverlies gely en beserings opgedoen het en wie se huise, toerusting, vee en voer in die slag gebly het.