fbpx
Vryheidsfront Plus

Regsgedinge insluitend VF Plus-hofsaak dwing regering waarskynlik om toe te gee oor Covid-19-inperkings

"Dit is duidelik dat die regering weens die talle regsgedinge wat teen hom aanhangig gemaak is, insluitend die hofaansoek van die VF Plus, nou gedwing word om sekere toegewings met betrekking tot die Covid-19-inperkingsregulasies te begin maak, wat net so irrasioneel is as wat van die inperkingsregulasies self was," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Dit maak byvoorbeeld nie sin om skoonheidsalonne, die hotel- en restaurantbedryf nou toe te laat twee weke nadat Vlak Drie in werking getree het nie. Die vraag kan gevra word wat in die laaste twee weke verander het rakende die Covid-19-infeksiekoers wat hierdie bedrywe aanbetref.

"Die virusinfeksie is steeds nie onder beheer nie en in sekere gebiede is daar tewens ‘n persentasie-toename in infeksies. Die enigste logiese afleiding is daarom dat die regering begin swig voor die druk van toenemende hofgedinge oor sy irrasionele inperkingsregulasies.

 

"Intussen moet daar steeds gewag word om te sien presies wat die protokolle behels en wanneer hierdie sektore toegelaat gaan word om oop te maak."

 

"Die onlangse verlede dien as bewys dat aankondigings van president Cyril Ramaphosa nie noodwendig dien as finale besluit nie. Finale sekerheid sal eers verkry word met die publikasie van die regulasies in die Staatskoerant.

"Die VF Plus sê lank reeds dat die genoemde industrieë weer toeglaat moet word om sake te doen met die nodige veiligheidmaatreëls in plek en dat die regering ‘n fatale fout maak om dit so lank uit te stel. Hoe langer daar gesloer word, hoe moeiliker raak dit vir hierdie industrieë om na maande sonder inkomste tot die bedryf toe te tree en al die nodige protokolle in werking te stel aangesien elke dag tot 'n verlies aan inkomste lei.

 

"In die lig van bogenoemde beplande toegewings maak dit ook geen sin om sigaretverkope steeds te verbied nie. Dit is irrasioneel en die VF Plus vermoed al hoe sterker dat ‘n motief betrokke kan wees wat nie verband hou met Covid-19 nie."

 

"Betreffende die president se verwysing na die kwessie van geslagsgeweld wat in die inperkingsperiode op die voorgrond getree het, het die VF Plus deurentyd gesê die probleem hiermee lê by die gebrekkige strafregstelsel.

"Die regering maak jaar na jaar beloftes oor die bestryding van geslagsgeweld, maar dit sal leë woorde bly totdat die strafregstelsel effektief is om voornemende misdadigers af te skrik.

 

"Dit was opmerklik dat die president geensins in sy verwysing na geslagsgeweld verwys het na die toename in plaasaanvalle waar verskeie vroue ook wreed aangerand is nie."

 

"Dit is vir die VF Plus onaanvaarbaar dat die president ander geweldsmisdaad teenoor vroue belig, maar dat dié van plaasaanvalle weer ontken word deur die verswyging daarvan.

"Dit is net so onaanvaarbaar soos die irrasionele optrede van die inperkingsregulasies wat die land se ekonomie op sy knieë gebring het," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.