"Dit is onaanvaarbaar en onsensitief van die ANC-regering om ‘n groot deel van Kaapstad ‘n volle dag tot stilstand te dwing vir ‘n uurlange staatsrede om seweuur die aand waar die kernprobleme van die land in elk geval jaar na jaar gesystap word," sê dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep.
"Talle paaie en areas rondom die parlement en in die stad sal vandag van 6:00 tot om 22:00 gesluit wees.
"Tientalle sake-ondernemings wat hierdeur geraak word, verloor ‘n dag se inkomste terwyl die noodlottige effek van die Covid-19-inperking reeds gesien kan word in talle leegstaande geboue in die middestad waar ondernemings weens die inperking hul deure moes sluit.
"Die ANC-regering is dit nie werd dat een onderneming verder moet ly nie, veral nie met ‘n staatsrede waar daar slegs vyftig mense toegelaat word weens pandemie-gesondheidsprotokolle nie."
"President Cyril Ramaphosa kom gewoonlik kort voor seweuur in ‘n swart konvooi met verkeersbegeleiding by die parlementsgebou aan en verlaat dit op dieselfde wyse. Die sluiting van die paaie is daarom hoofsaaklik om veiligheidsredes vir die groot aantal belangrike gaste wat die staatsrede gewoonlik bywoon.
"Dit is vandag nie die geval nie en die besluit om ‘n deel van die stad te sluit is daarom sonder rede en wys dat die ANC totaal uit voeling is met die realiteit en die gevolge van die inperking waar duisende sake-ondernemings regoor die land sukkel om te oorleef.
"Die paaie wat gesluit gaan word, is volgens die verkeersowerhede vanjaar “beperk” tot die gebied rondom die parlement, die M2 en die N2 inkomend.
"Die sluiting van die hoofroetes tussen 18:15 en 19:00, wat verkeersvloei in die spits-verkeerstyd erg beïnvloed, is om die president se konvooi ‘n onbelemmerde rit na die parlement te bied," sê Mulder.
Die volgende paaie en gebied word gesluit (alles van 06:00 tot 22:00):
• Die Kompanjiestuin.
• Bureaustraat tussen Adderleystraat en Parlementstraat
• Mostert-/Spinstraat tussen Corporationstraat en Parlementstraat
• Parlementstraat tussen die parlement en Spinstraat, 35 m vanaf Longmarketstraat (uitgesluit toegang tot die parkeervlak)
• Pleinstraat tussen Roeland- en Barrackstraat
• St. John’s-straat tussen Roeland- en Vredestraat
• Roelandstraat tussen Plein- en Buitenkantsraat
• Hopestraat tussen Roeland- en Glynnstraat
• Die hele Galerylaan
• Governmentlaan van Walestraat tot Galerylaan
• Die hele Bouquetstraat, insluitend die parkeerarea
• Commercialstraat tussen Plein- en Buitenkantstraat
• Kerkplein