"President Cyril Ramaphosa se staatsrede wys hy is uit pas met realiteit en dat hy in ‘n droomwêreld leef waar hy midde in een van die grootste krisistye in die land se geskiedenis steeds droom oor superstede," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
"Dit terwyl miljoene mense in die land werkloos is of van ‘n welsynstoelaag moet leef. Die president en sy regering het duidelik voeling verloor met die desperate stryd van die gewone mense op straat.
"Die VF Plus het van president Ramaphosa verwag om werkbare, gedetailleerde planne aan te kondig oor hoe hy beplan om die ekonomie te stimuleer en werk te skep. Daarvan het weereens niks gekom nie.
"Die enigste manier om die ekonomie te laat groei is om ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor te skep. ANC-onteieningsbeleid doen die teendeel.
"Die president het male sonder tal gepraat van wat gedoen “moet” word om die ekonomie te red. Dit beteken niks. Almal weet wat gedoen “moet” word. Die vraag is wat tot nou toe in die praktyk gedoen is. Die antwoord is feitlik niks.
"President Ramaphosa verwys telkens na groot infrastruktuur-projekte, beloftes van reuse beleggings en plaaslike produksie wat moet groei. Dit gebeur nie en plaaslike produksie sal bly stagneer solank as wat striemende wette die arbeidsektor lamlê.
"Hy verwys na die ekonomiese herstelprogram, maar noem die regering se verbintenis tot swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in dieselfde asem. SEB is juis die rede waarom Suid-Afrika se ekonomie selfs voor die pandemie tot rommelstatus gedaal het en dit sal net verder daal indien die regering nie daarvan wegstuur nie.
"Die president spog verder oor die maklike wyse waarop meer as honderdduisend maatskappye geregistreer is deur bloot ‘n paar knoppies te druk.
"Dit is niks om oor te spog nie en is tewens ook deel van die probleem waar mense sonder enige kundigheid of vaardigheid ‘n maatskappy kan stig wat bloot daarop uit is om tenders te bekom deur SEB en politieke verbintenisse soos tydens die pandemie gesien is.
"Solank as wat die regering aan SEB en onteiening sonder vergoeding vaskleef, sal daar van die wonderlikste planne om die ekonomie te laat groei, niks kom nie."
"Dit trek ‘n streep deur al die planne. Geen voornemende belegger sal met sulke afbrekende beleid hul geld in die land belê nie.
"Die VF Plus verwelkom wel die moontlikheid dat die plaaslike regeringsverkiesing wel vanjaar gehou gaan word aangesien dit die geleentheid gaan bied om die ANC se verlammende greep op die land los te wikkel.
"President Ramaphosa het in sy toespraak verwys na die Kaapse fynbos wat herleef na ‘n groot brand.
"Die werklikheid van Suid-Afrika is dat die ANC-regering hierdie vuur is wat die land deur sy optrede vernietig en die herlewing sal eers kan plaasvind wanneer daar in ‘n verkiesing van die ANC ontslae geraak word," sê Groenewald.