Nóg beloftes, nóg leë woorde, raamwerke en taakspanne. Dit is die oplossing wat pres. Cyril Ramaphosa as oplossing gebied het vir ’n land wat kritiek in die waaksaal lê.
Daar kan geen twyfel meer wees dat die president die ANC en sy beleid bo Suid-Afrika en sy mense stel nie.
Hy was nie bereid om ’n enkele ongewilde besluit te neem soos die beëindiging van kaderontplooiing om die ekonomie op die herstelpad te plaas nie.
Die president het wel die probleem van werkloosheid erken en planne bekend gemaak van ’n stimulusprogram om werk te skep. Dit is egter kosmeties en onvolhoubaar aangesien die staat die projek sal dryf. Die president erken dat daar wetgewing en regulasies is wat werkskepping deur die privaatsektor bemoeilik, maar spreek dit nie werklik aan nie.
Pres. Ramaphosa het erken dat die private sektor die primêre werkskepper in die land moet wees, en dit is hier waar stimulus deur verandering moet kom om werkskepping op ‘n volhoubare grondslag te bewerkstellig.
Die president erken dat die landbousektor baie potensiaal het om werk te skep en ekonomiese groei te bewerkstellig.
Indien hy egter hieroor ernstig was, sou hy bystand aan kommersiële boere wat groot skade gely het weens die onlangse vloede, aangekondig het. Hy sou ook landelike beveiliging geprioritiseer het. Die landbousektor kan nie floreer terwyl boere vermoor word nie.
Die aankondiging dat 12 000 bykomende polisiemanne aangestel gaan word en dat veranderinge gemaak gaan word aan die bestuur en kundigheid in al die intelligensiedienste word verwelkom.
Dit is nogtans onaanvaarbaar dat spesialis-eenhede van die beperkte polisie-mannekrag aangewend kan word vir die beskerming van infrastruktuur terwyl dit nie vir landelike beveiliging gedoen kan word nie.
Soos voorheen het die president ’n goeie ontleding van die land se probleme gegee asook van die faktore wat ekonomiese groei aan bande te lê, maar nie ’n enkele stap om daadwerklike veranderinge teweeg te bring nie.
Die enigste plan wat op die tafel geplaas is, is dat Suid-Afrikaners saam binne “honderd dae’’ ’n plan moet beraam om die ekonomie te stimuleer. Dit is ’n tipiese voorbeeld van leë woorde wat niks kan of gaan oplewer nie.
Hy praat van reuse infrastruktuur-ontwikkeling en ander projekte van miljarde rande sonder om te sê waar die geld hiervoor gevind gaan word.
Hy erken onder meer beleggings het oor jare afgeneem, dat kragprobleme die sakesektor kortwiek, die belang van die private sektor en dat dié sektor gehelp moet word, probleme op plaaslike regeringsvlak, die gevolge van staatskaping op Eskom, die noodsaaklikheid van werkende hawens en rompslomp wat entrepreneurskap moeilik maak.
Dit weet almal in Suid-Afrika. Die president het bloot ’n perfekte prentjie geskets van die haglike toestand waarin Suid-Afrika onder die ANC beland het.
Wat die land wou hoor, is wat die regering gaan doen om hierdie probleme op te los.
Daarvan was daar oudergewoonte niks.
Die ekonomie sal net groei indien weggedoen word met swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA).