Dienslewering in die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Breyten, Chrissiesmeer, Davel, Ermelo, Lothair) is weereens die slagoffer van die ANC se binnegevegte en openlike minagting van munisipale wetgewing.
Die ANC se uitvoerende komitee vir die Gert Sibande-streek, het die nuutverkose burgemeester van Msukaligwa, Aggy Mahlalela, die hoofsweep, Samkelo Buthelezi en die speaker, Ncane Madini, geskors nadat hulle nie vrywillig hul poste wou ontruim nie.
Volgens die ANC was hul aanstellings in November 2021 net tydelik totdat probleme met die plasings op sy proporsionele lys vir verlede jaar se plaaslike regeringsverkiesing, afgehandel is.
Om sake te vererger, het Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, aan die VF Plus bevestig dat die aanstelling van die waarnemende munisipale bestuurder van die munisipaliteit, Bonginkosi Sibeko, onwettig is omdat hy nie aan die nodige vereistes in terme van die Munisipale Stelselswet voldoen nie.
Shiba het beveel dat die raad die aanstellingsproses moet hersien. Indien daar nie kandidate is wat oor die nodige kwalifikasies beskik nie, sal Cogta ‘n kandidaat vir die pos aanwys.
Sibeko is tydens ‘n raadsvergadering op 26 November 2021 as waarnemende munisipale bestuurder benoem, maar daar is nie gestem oor sy aanstelling nie.
Die ANC in die munisipale raad se openlike minagting vir wetgewing met die aanstelling van Sibeko, kan ernstige finansiële gevolge inhou vir die munisipaliteit aangesien enige besluit wat hy geneem het, as onwettig verklaar kan word.
Die werksaamhede van die raad het boonop tot stilstand geknars met die skorsing van die sogenaamde Trioka aangesien daar ook ‘n wolk van onsekerheid hang oor die voortbestaan van die huidige burgemeesterkomitee.
Hierdie is weereens net ‘n bewys dat die ANC nie die erns het om plaaslike regering reg te ruk en getroue belastingbetalers se belange voorop te stel nie.
Navrae: 082 801 4114 / 066 376 3329