"President Cyril Ramaphosa se reaksie op die radiostasie 702 oor die rassistiese haatspraak van die BLF-leier, Andile Mngxitama, is teleurstellend deurdat hy die fokus na wit mense verskuif asof dit hoofsaaklik ‘n wit probleem is," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Oor Mngxitama se uitsprake het pres. Ramaphosa daarop gesinspeel dat rassisme nie algemeen onder swartes voorkom nie en dat Mngxitama waarskynlik net “een stem in ‘n wildernis” is.
President Ramaphosa het verder gesê:
“…ons kan nie deur die haat van sommige witmense begin om die hele gemeenskap as haters van swartmense te definieer nie. Ons moet sê diegene wat swartmense haat en diegene wat rassisties is, moet geïsoleer word. Ons moet vir hulle die beste maniere leer van wat ‘n nasie is.
"As die president rassisme werklik wil pak, moet hy nie net wittes aanspreek nie, maar ook swartes
Groenewald sê Ramaphosa se woordespel skep die indruk dat die werklike probleem in Suid-Afrika witmense is terwyl die probleem ter sprake die haatdraende uitlatings van Mngxitama is.
Dit sluit aan by uitsprake van EFF-lede in die parlement wat goed gedokumenteer is.
"Enigeen sal saamstem met die president se uitlatings dat almal in die land verdraagsaam moet wees en mekaar moet “verstaan en omhels”. Maar om te sê dat ‘n nasie tans gebou word uit die as van rassisme, haat en onverdraagsaamheid, skep die indruk dat alle probleme rondom ras net aan wittes toegeskryf kan word."
"Dit terwyl rassisme, soos tans gesien, hard en duidelik deur die BLF en sy ondersteuners aangeblaas word
"Die VF Plus is gekant teen enige vorm van rassisme en as die president rassisme werklik wil pak, moet hy nie net wittes aanspreek nie, maar ook swartes. In hierdie geval moes hy Mngxitama se uitlatings ongekwalifiseerd veroordeel het.
"Hy doen dit egter nie en probeer inteendeel met woordespel om die rassisme op wittes te projekteer. Die president verteenwoordig almal in die land en dit is jammer dat hy ‘n gulde geleentheid laat verbygaan het om rassisme in die algemeen te veroordeel en nasiebou te bevorder, sê Groenewald.