fbpx
Vryheidsfront Plus

Ramaphosa erken sy onvermoë om op te tree teen korrupsie

Die feit dat president Cyril Ramaphosa diepliggende probleme in die ANC deur middel van twiets op die sosiale media noem, is ‘n bewys dat hy onbevoeg is om die probleme daadwerklik op enige ander manier aan te spreek.

Hy tree op soos ‘n Pontius Pilatus wat nie self wil optree teen probleme in sy party nie, maar dit afskuif na die ANC om op te tree.

Die president kan homself egter nie so maklik verontskuldig nie aangesien hy sedert 2012 die adjunk-president van die ANC en sedert 2014 die adjunk-president van Suid-Afrika was. Hy was deel van die proses van kaderontplooiing en het geweet van die korrupsie-probleme op ‘n wye front in die ANC.

Hy kan nie nou sy hande in onskuld was nie. Die president is aandadig aan die korrupsie-probleem in die ANC en die regering aangesien hy oor jare daarvan bewus was en geswyg het.

Om boonop weereens te probeer om apartheid te betrek en die sondebok te maak asof dit korrupsie veroorsaak, is nog ‘n bewys van die president se onvermoë om die probleem op ‘n eerlike wyse aan te spreek. Dit is blaamverskuiwing om sy eie verantwoordelikheid te ontduik.

Deur sy twiets erken die president aan die wêreld hy staan magteloos en dat korrupsie in die ANC buite beheer is.

Die twiets wat hy die naweek uitgestuur het waar hy die probleem van korrupsie erken en stappe noem om dit teen te werk, is nogtans insiggewend, alhoewel opposisiepartye soos die VF Plus dit jare reeds op verskeie platforms soos in die parlement geïdentifiseer het en aangedring het om optrede.

Die feit dat die president nou sê dat mense in die ANC onbehoorlik bevoordeel word wat werkgeleenthede aanbetref, is ook ‘n ou probleem. Die VF Plus maak jare reeds beswaar teen ANC-kaderontplooiing in die regering wat onbevoegdheid en swak dienslewering tot nadeel van die hele Suid-Afrika in die hand werk.

Dit is ironies dat die president nou die probleem erken terwyl hy onlangs nog gesê het sy eerste prioriteit is die ANC en dat hy dié party se belange voor dié van die land stel.

Dit wys opnuut dat hy nie bevoeg is om die president te wees nie aangesien enige president wat sy party se belange bo dié van die land stel, nie die amp waardig is nie.

Pres. Ramaphosa is goed daarmee om probleme te identifiseer, maar nie om dit op te los nie. Hy het met sy verkiesing as president in 2017 al gesê korrupsie sal ernstig beveg word. Dit het net vererger.

Die VF Plus sê pres. Ramaphosa moet nou optree soos die president van die land, Suid-Afrika se belange eerste stel en opreg luister na die kritiek van opposisiepartye. Slegs dan sal hy uit die moeras van korrupsie, diefstal en bedrog van ANC-kaders kan uitstyg.

Ewe belangrik is om toe te sien dat die skuldiges nie net herontplooi of verwyder word nie, maar om hulle strafregtelik te laat vervolg en te laat toesluit waar nodig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Van die VF Plus se politieke lessenaar
Dalien Steyn

Meningspeilings en verkiesingsuitslae

Daar is die afgelope ruk byna elke week ʼn nuwe meningspeiling wat voorspel hoe politieke partye in die komende verkiesing gaan vaar.

Die jongste dag-tot-dag-meningspeiling van die Social Research Foundation (SRF) dui daarop dat die ANC nou voorloop in KwaZulu-Natal nadat hy sy groot kanonne ingestuur het om in die provinsie stemme te werf.

LEES MEER
Jongste nuus
Amanda de Lange

Lesufi faal welsynsorganisasies

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, se krisisbestuur om welsynsorganisasies wat nog nie hul diensooreenkomste ontvang het nie

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.