Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ramaphosa en ANC besig om burgerlike weerstand tot kookpunt te dryf

"President Cyril Ramaphosa en die ANC is besig om burgerlike weerstand teen regeringsvergrype tot kookpunt toe te dryf en hy moet daarvan kennis neem dat dit nie veel langer geduld sal word nie," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

"Die kwessie rondom korrupsie en oud-president Jacob Zuma is een aspek daarvan.

"Die president het onlangs self gesê die ANC is Beskuldigde Nommer Een wat korrupsie aanbetref. En as hoofleier van die ANC en president is hy Nommer Een van Beskuldigde Nommer Een.

"Verlede jaar het Popo Molefe, ’n voormalige voorsitter van Prasa voor die Zondo-kommissie getuig oor ’n verslag wat hy aan die ANC se Top Ses oorhandig het met detail oor korrupsie en bedrog. President Ramaphosa was deel van die Top Ses. Wat het hy daaraan gedoen?

"In 2018 het ‘n voormalige minister van staatsveiligheid, Sydney Mufamadi ’n verslag aan die president gegee met inligting oor ernstige ongerymdhede in die staatsveiligheidsagentskap. Daaraan is ook niks gedoen nie.

"Dieselfde patroon van geen optrede is onlangs met Zuma gevolg. Nadat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te getuig, het die president gesê Zuma moet “plek en tyd” gegee word om na te dink oor sy optrede.

 

"Die VF Plus se mening hieroor is dat ’n tronksel die enigste plek is wat nodig is vir Zuma om te dink en dat die straf wat hy moet uitdien hom genoeg tyd sal gee om te dink."

 

 

"Die VF Plus se vraag is ook of presidensiële kwytskelding aan Zuma oorweeg word. Dit sal onaanvaarbaar wees en die president moet eerlik wees met die mense van Suid-Afrika hieroor.

"Indien Zuma kwytgeskeld word van vervolging, sal president Ramaphosa medepligtig staan aan die misdaad waarvan Zuma beskuldig word.

"Wat die ekonomie aanbetref, koppel die president ekonomiese herstel en groei direk aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat die ekonomie eerder vernietig as opbou.

"Met die staatsrede-debat verlede jaar het die VF Plus aan die president die voorbeeld by Eskom genoem van ’n buislig van R26 wat weens SEB-bevoordeling eindelik R900 gekos het.

"Net soos wat Covid-19 mutasies het, so het SEB ook mutasies. By die Kgetlengrivier-plaaslike munisipaliteit in Noordwes, moes die gemeenskap hof toe gaan vir toestemming om self die dorp se water- en sanitasiewerke te herstel.

"Dit blyk toe dat die plaaslike ANC-regering die stelsel met opset laat verval het sodat kontrakteurs watertenks en water kon aanry.

"Hy het onlangs ook aangekondig dat wittes nie in aanmerking gaan kom vir die toelaag om toerisme weer op dreef te kry nie. Dit terwyl daar baie wit eienaars is wat talle swart mense in diens het. Swartes word dus werkloos gelaat omdat die regering ’n wit persoon nie wil help nie.

"Net so is gevalle waar Indiër en bruin mense uitgesluit word, soos gebeur het by ’n motorveiling in Durban waar Indiërs verbied is om deel te neem, en by die Hoërskool Brackenfell waar die president gesê het die EFF het die reg om te protesteer. Dit is openlike rassediskriminasie.

 

"Onder die dekmantel van SEB is miljarde rande reeds van die belastingbetaler gesteel. Die publiek het genoeg daarvan gehad. Indien belasting met die komende begroting verhoog gaan word, kan die regering ’n belasting-opstand verwag."

 

"Die publiek is nie langer bereid om belasting te betaal aan ’n regering wat toelaat dat hul geld gesteel en vermors word soos nou weer met die Covid-19-hulpfonds gesien is nie.

"Die drakoniese en irrasionele regulasies weens Covid 19 bevorder burgerlike ongehoorsaamheid soos gesien is in die e-tol-sage. Die regering is self besig om burgerlike weerstand teen regeringsvergrype te veroorsaak en die breekpunt is naby," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.