"Die raad op mededinging en die mededingingstribunaal kan beter doen as om bloot ‘n polisiëringsmeganisme vir die regering se regstellende kodes te wees," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel, nywerheid en mededinging.
"Die komissaris van die raad op mededinging, mnr. Tembinkosi Bonakele, het vandag tydens ‘n voorlegging van die raad op mededinging en op ‘n vraag van die VF Plus bevestig dat dit die raad se hooffokus is om sogenaamde ongeregtighede van die verlede uit te wis en toegang tot swart beheerde klein-medium (KMO) ondernemings te bevorder.
"In sy beoordeling van moontlike monopolieë en samesmeltings van ondernemings word ras dus in ag geneem en nie bloot gesonde sakebeginsels nie.
"Die VF Plus sal graag wil sien dat die raad en tribunaal meer fokus op die totstandkoming van ‘n billike sakeomgewing en die bevordering van lokalisme deur plaaslike ekonomiese ontwikkeling aan te moedig."
"Ekonomiese groei is noodsaaklik om nuwe sake- en werksgeleenthede te skep. Die blote herverdeling van bestaande welvaart en hulpbronne kom neer op ‘n herverdeling van armoede.
"Die ANC-nalatenskap van staatskaping en korrupsie die afgelope 26 jaar het onberekenbare skade aan die ekonomie en die volhoubaarheid van klein-medium-sakeondernemings aangerig.
"Die VF Plus beywer hom vir die ontwikkeling van plaaslike ekonomieë om klein-medium-ondernemings te ondersteun sonder uitsluiting," sê Mulder.