"Die staatsdiens se salarisrekening is wel onbekostigbaar, maar die probleem lê veral by middel- en topvlak-amptenare wat hopeloos te veel verdien terwyl hulle grootliks passasiers is wat geen bydrae tot die land se welvaart lewer nie," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.
"Dit gebeur ten koste van persone wat daagliks onontbeerlike dienste lewer soos dokters, verpleegsters, onderwysers, lede van die polisie en vele ander.
"Hierdie sektore is ironies genoeg gewoonlik onderbeman terwyl daar ‘n oormaat is aan oorbetaalde top-amptenare wat blote passasiers op die staatsdiens-soustrein is.
"Die minister van finansies, Tito Mbowini, het in sy mediumtermyn-begrotingstoespraak gesê ‘n besnoeiing in salarisse kan die fiskus sowat R300 miljard per jaar laat bespaar.
"Die staat het in 2006/07 R154 miljard aan salarisse betaal. Dit beloop tans R600 miljard vir 1,3 miljoen amptenare wat ‘n derde van die land se totale begroting is. Dit is ‘n gemiddelde salaris van meer as R460 000 per jaar wat totaal onvolhoubaar is."
"Tesourie besef dit en vandaar die minister se voorstel om geen verhoging in die openbare sektor se salarisse toe te ken vir die volgende drie jaar nie.
"Die vraag moet egter gevra word waarom die ANC-regering toegelaat het dat die situasie so buite beheer raak. Die antwoord is eenvoudig: Die regering weet nie wat die verskil is tussen ‘n arbeidskepper en ‘n werkverskaffer nie.
"Die arbeidsmark het gestagneer en werkloosheid is die hoogste ooit. Nie weens Covid-19 nie, maar weens die ANC. Om hiervoor op te maak, is die fiskus misbruik om werk te skep en vakbonde het hul mag misbruik om buitensporige salarisse te beding terwyl die belastingbasis gekrimp het.
"Bring wanbesteding, korrupsie, bedrog en ‘n gebrek aan produktiwiteit ook in berekening, en dit is duidelik waarom Suid-Afrika in ‘n benarde geldelike situasie verkeer."
"Onlangse marknavorsing van Intellidex, in opdrag van Bussiness Unity South Africa, toon aan dat die salarisrekening van die openbare sektor sowat 50% van die land se belastinginkomste beslaan. Dit kan nie so voortgaan nie.
"Die antwoord om dit reg te stel is eenvoudig. Raak ontslae van die onnodige passasiers en koester diegene wat elke dag ‘n onontbeerlike en onbaatsugtige diens lewer om die land aan die gang te hou," sê Denner.