"Optogte soos dié wat die EFF vir Vrydag na die Hoërskool Brackenfell beplan, is ‘n totale minagting vir die grondwetlike regte van wetsgehoorsame mense wat nie daarmee vereenselwig nie," sê dr. Cornê Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep.
"Dit is kommerwekkend dat die EFF reeds deur ‘n amptelike party-twiet gedreig het om Brackenfell “tot stilstand te bring” en sal toesien dat “niks daar werk nie” en dat hulle sal optree teen enigiemand wat in hul pad staan.
"Oor môre se beplande optog het die skool ‘n hof genader om die optog te keer. Dit is nie toegestaan nie, maar die hof het wel beveel dat slegs ‘n honderd mense mag deelneem.
"Die VF Plus sal dophou of die polisie die hofbevel gaan afdwing. Indien daar meer as honderd mense by die optog opdaag, moet die polisie toesien dat die optog nie plaasvind nie."
"Wat nou by Brackenfell gebeur, herinner aan die ontwrigting wat plaasgevind het met EFF-protesoptredes by die Hoërskool Overvaal enkele jare gelede.
"Die VF Plus het toe ‘n privaatlid-wetsontwerp indien met die doel om protesoptredes wat enige ontwrigting naby ‘n skool mag veroorsaak, te verbied.
"Dit het nie geslaag nie, en die party sal die moontlikheid ondersoek om weer so ‘n wetsontwerp in te dien aangesien dit totaal onbegryplik en onaanvaarbaar is dat enige protesoptrede by ‘n skool toegelaat word, veral in eksamentyd.
"Dit is ook moeilik om in te sien hoe ‘n hof kan voorsien dat enige protesoptrede van die EFF, wat ‘n bewese rekord van geweld het, vreedsaam sal wees, wat wel ‘n voorskrif van die Grondwethof is."
"Die owerhede het nou ‘n beroep op die publiek gedoen om die omgewing van die Hoërskool Brackenfell te vermy waar die optog sal plaasvind. Die VF Plus wil hierby aansluit. Indien die EFF by ‘n verlate skool in ‘n verlate straat opdaag, sal dit die rooi ballon prik.
"Konfrontasie is presies wat dié mense wil hê. Daarsonder word hul suurstof weggeneem. Die VF Plus sal seker maak die hofbevel word uitgevoer en sal klagte indien as dit nie gebeur nie," sê Mulder.