fbpx
Vryheidsfront Plus

Plaasaanvalle: President moet dit openlik veroordeel en boere moet hulself verdedig deur vuur met vuur te beantwoord

"Die ongekende vlaag van plaasaanvalle en moorde op boere in Suid-Afrika die afgelope tyd vereis dat die president van die land daarop moet reageer en dit ten sterkste veroordeel. Dit vereis ook dat die landbougemeenskap paraat en voorbereid moet wees om, binne die wet, vuur met vuur te beantwoord," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die omvang en wreedheid van plaasmoorde en die stilswye van die president asook die gebrek van regeringsondersteuning, skep die indruk dat die ANC se grondonteieningsprogram die president tot stilswye dwing.

 

"Dit wil voorkom asof die president dit nie kan waag om die boere se beskerming teen misdaad te vra nie, want dan sal hy ook moet vra dat boere se eiendom beskerm word en dit bots met grondonteiening sonder vergoeding."

 

"Wanneer daar 31 plaasaanvalle en vier plaasmoorde binne net tien dae plaasvind, dan is dit genoegsame bewys dat hierdie nie net gewone misdaad is nie, maar georganiseerde misdaad wat prioriteit-aandag verg.

"Wanneer ‘n president van ‘n land ‘n ophef maak van net sekere uitsonderlike voorvalle, soos die dood van George Floyd in Amerika, maar oor ander uitsonderlike gruweldade soos plaasmoorde in sy eie land swyg, dan ontduik hy sy verantwoordelikheid teenoor die burgers van sy eie land.

"Dit is bekend hoe president Cyril Ramaphosa in Amerika moorde op wit boere in Suid-Afrika ontken het en eers toegegee het dit vind plaas nadat die VF Plus in November 2018 groot druk in die parlement tydens vraetyd op hom geplaas het.

 

"Dit is nou ‘n jaar en ‘n half gelede. Hoeveel mosies teen plaasaanvalle moet nog by die parlement ingedien word, hoeveel debatte moet nog gevoer word en hoeveel optogte ter ondersteuning van die boere van Suid-Afrika moet nog gehou word, voordat die gruweldade van plaasmoord deur die president en die regering besef word?"

 

"Die werklikheid is dat die boere nie kan staatmaak op die regering van die dag nie. Landbou-organisasies en gemeenskappe het landelike beveiligingstelsels geïmplementeer om die boere te beskerm. Danksy hierdie stelsels is baie minder boere vermoor en is die 31 aanvalle teenoor vier moorde weereens ‘n bewys daarvan.

"Plaasaanvalle gaan toeneem en die landbougemeenskap moet paraat en voorbereid wees om, binne die wet, vuur met vuur te beantwoord. Elkeen het die grondwetlike reg om hom- of haarself te verdedig wanneer hul veiligheid en lewe bedreig word.

"Die VF Plus sal aanhou om politieke druk hieroor op die president en die regering te plaas," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.