"Die VF Plus waarsku dat strenger inperkings by Covid-19-brandpunte sal lei tot algehele chaos in gemeenskappe en dat inwoners hulle bloot nie meer aan verdere inperkings sal steur nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Die aankondiging van die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, laat gistermiddag op SAfm dat strenger inperkingsmaatreëls in brandpunte oorweeg moet word wat Gauteng, die Oos- en Wes-Kaap en KwaZulu-Natal insluit, is in kontras met wat die minister skaars ‘n maand gelede aangekondig het oor die feit dat die inperkings sy doel gedien het en dat verdere inperkings nie die verspreiding van die virus sal keer nie.
"Die minister moet in ag neem dat indien die regering en sy departement se siftingsprosedures en toetsprosedures voldoende uitgevoer was in al die nege provinsies, sou sulke stappe nie nodig gewees het nie. Verdere inperkings in brandpunte sal nie slaag nie en sal gemeenskappe se ekonomieë totaal en al vernietig.
"Die regering en die departement van gesondheid moet die blaam dra vir ‘n siftingsproses wat nie voldoende of suksesvol was nie en daarom ontstaan brandpunte."
"Die regering het reeds sy kanse in die eerste weke van die inperkings verspil om toe te sien dat die gesondheidstelsel opgeknap en op standaard en in gereedheid gebring word, maar dit het nie gebeur nie. Die regering moes met groter dringendheid deur die land na punte van uitbreking gesoek het. Dit is duidelik dat waar die brandpunte nou ontstaan, in Gauteng en die Oos-Kaap, daar nie werklik moeite gedoen is om die virus vroegtydig te bestry nie.
"Die VF Plus is van mening dat mense nie langer ingeperk kan word nie en indien dit gebeur, sal die publiek hom nie meer aan enige inperkingsmaatreël steur nie. Dit sal onvermydelik lei tot konflik met owerhede. Niks goeds kan uit verdere inperkings kom nie."
"Een sekere gevolg sal ‘n verergering van hongersnood wees en dit sal die enorme druk wat reeds op openbare- en private gesondheidsorg bestaan weens Covid-19, net vererger. Geen verdere inperking gaan in hierdie stadium enige verskil maak in die verspreiding van die virus nie.
"Covid-19 kan vir nog so lank as agtien maande met die wêreld wees en daar sal geleer moet word om nie net die realiteit te aanvaar nie, maar ook om die virus effektief te beheer en te bestuur. Daar moet eerder nou gefokus word om programme uit te rol om gemeenskappe te leer van die gevare van die virus asook hoe om voorkomingsmaatreëls sorgvuldig in gemeenskappe en huishoudings toe te pas.
"Daar moet pro-aktief gedink word oor die aangeleentheid. Hiervoor moet daar nou na wetenskaplikes, mediese kundiges en ander rolspelers geluister word en ANC-politiek en hardkoppigheid moet ter wille van die land en sy mense se welstand laat vaar word," sê van Staden.