"Die Appèlhof se uitspraak, dat Unisa se besluit om Afrikaans as taal van onderrig te beëindig ongrondwetlik en onwettig was, is 'n duidelike teregwysing vir die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande. Nzimande het herhaaldelik op parlementêre vrae van die VF Plus verklaar dat Afrikaanse onderrig 'n metode van uitsluiting aan universiteite is," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese en hoër onderwys, wetenskap en innovasie.
"Nzimande het telkens na hofuitsprake oor die taalbeleide van die Universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat verwys as aanduiding dat sy departement se eentaalbeleid grondwetlik is. Hierdie uitsprake het antwoorde oor hoe die vermindering van tale groter insluiting bewerkstellig. Dit lyk ook of die aksie teen Afrikaans gebruik word om die versuim te verberg om ander Afrika-tale te ontwikkel.
"Aangesien hierdie uitspraak uiters belangrik is, gaan die VF Plus dit vergelyk met die uitsprake oor Stellenbosch en die Vrystaat se taalbeleide. Meer in-diepte reaksie kan verwag word."
"AfriForum, wat die saak hof toe geneem het, verdien gelukwense met hierdie oorwinning," sê Boshoff.