Die voorsitter van die munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC) van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit, me. Portia Selogilwe, het Donderdag etlike verslae aan die raad voorgelê, sonder dat die komitee dit oorweeg het.
Die Phokwane-munisipaliteit bedien die dorpe Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstat.
Die verslae handel oor onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes van meer as R100 miljoen oor etlike jare.
Die betrokke komitee het op Dinsdag 27 Augustus vergader, maar verdaag en na Woensdag 28 Augustus verskuif.
Nadat dit om 10:00 moes begin, het die VF Plus die vergadering teen 10:50 verlaat toe geen ander lid opgedaag het nie. Die party het geen kennisgewing ontvang dat die vergadering wel later sou plaasvind nie.
Met die raadsvergadering op 29 Augustus het die komiteeverslae egter gedien, met ‘n bevinding dat geen onreëlmatighede plaasgevind het nie en dat alle uitgawes in belang van die munisipaliteit was. Die verslae stel dit uitdruklik dat MPAC dit oorweeg het en dat die lede die besluit geneem het. Dit is ‘n blatante onwaarheid.
Die VF Plus oorweeg tans alle moontlike stappe aangesien hierdie stelling onwaar en teenstrydig met die gedragskode vir raadslede is. Optrede wat oorweeg word, wissel van aanmelding by die speaker tot strafregtelike klagte.
Mediaverklaring uitgereik deur:
Rickus te Baerts
VF Plus-raadslid: Phokwane-plaaslike munisipaliteit