Openbare verteenwoordigers van die Tshwane-metro se versuim om hul maandelikse diensterekening te vereffen, is onaanvaarbaar en kan nie langer voortduur nie.
Raadslede skuld die metro tans R2 548 446,78 en die grootste sondebokke is raadslede van die ANC, EFF en DA.
ANC-raadslede skuld R1 962 033,67 waarvan die koukusleier R687 692,21 verskuldig is.
Die EFF skuld R178 861,06, die DA R307 101,81 en Action SA R17 571,44. Die res van die bedrag word deur kleiner partye opgemaak.
Geen van die VF Plus se raadslede het agterstallige diensterekeninge nie.
Vier-en-twintig raadslede is al vir meer as ʼn jaar agterstallig, 30 vir ʼn jaar en die res is 180 dae agterstallig.
Die VF Plus is van mening dat die openbare verteenwoordigers se neiging tot niebetaling van munisipale rekeninge oneties en ʼn skending van hul verantwoordelikhede teenoor die metro is.
Raadslede is veronderstel om as voorbeeld te dien vir die gemeenskap om hul finansiële verpligtinge getrou na te kom. Daar kan nie van inwoners verwag word om getrou hul diensterekening te betaal indien raadslede self agter die deur staan nie.
Die VF Plus sal druk op die metro uitoefen om raadslede verantwoordelik te hou om hul verpligtinge na te kom.
Die party doen ook ʼn beroep op die skuldige raadslede om sonder versuim hul skuld te betaal om die publiek se vertroue in die openbare ampsdraers te herstel.
Die VF Plus se raadslede bly verbind tot deursigtigheid, aanspreeklikheid en die bevordering van ‘n kultuur van verantwoordelikheid in die Tshwane-metroraad.