fbpx
Vryheidsfront Plus

Afpersingsindikate moet genadeloos uitgeroei word

(Grafika met erkenning aan Rhewal.com)

Die snel groeiende voorkoms van afpersingsmisdaad, veral in die konstruksiebedryf, kos die land miljarde en die tyd het aangebreek om genadeloos teen die sindikate op te tree voordat hulle te diep wortel skiet.

Die minister van polisie, Senzo Mchunu, het vandag in ʼn parlementsdebat hieroor erken dat die groeiende “vlaag van afpersing” en verwante misdaad ʼn ernstige bedreiging vir die land inhou en gemeenskappe diep raak.

Hy het die sindikate beskryf as “leërs van moorddadige parasiete” wat vrees by gemeenskappe inboesem en dat die samelewing hulle gesamentlik moet “beveg en verwerp”. Die VF Plus stem heelhartig hiermee saam.

Die optrede van hierdie sindikate vir sogenaamde “beskerming” – ook teen hulself – kos die land se ekonomie na raming al sowat R68 miljard. Die vrees en huiwering wat dit onder sakelui veroorsaak om nuwe projekte aan te pak, is grootliks onmeetbaar.

Tesame met ʼn regering wat die private sakesektor tot dusver uiters vyandig behandel het en hom die skuld gegee het vir die ekonomiese kreeftegang, is die las van hierdie bykomende meulsteen om die nek bykans ondraaglik.

Die kwartaallikse misdaadstatistieke wat verlede week uitgereik is, wys dat afpersing binne een jaar meer as verdubbel het met Gauteng en KwaZulu-Natal waar die meeste sake aangemeld is.

Die misdaad is ook nie net beperk tot die konstruksiebedryf nie, maar sluit onder meer grond, behuising, die taxi- en gasvryheidsbedryf in.

Een van die groot probleme in die bestryding van die misdaad is die vrees vir vergelding waar selfs gesinslede bedreig word en soos met geslagsgegronde geweld huiwer slagoffers om dit te rapporteer.

Die VF Plus waarsku al jare lank dat hierdie misdaad sonder enige werklike optrede sy greep verstewig. Indien daar op dié waarskuwings ag geslaan is, sou dit nie vandag so ʼn groot probleem gewees het nie.

Die regering van nasionale eenheid (RNE) sal hierdie nuwe tentakel van Suid-Afrika se misdaadmonster sonder genade moet afkap. Die ekonomie kan nie verdere slaggate in die pad bekostig nie.

Die minister se erns oor die aangeleentheid word verwelkom, so ook enige plan om dié misdaad te bestry. Dit sal groot dapperheid en kundigheid van wetstoepassers verg en planne wat net op papier bestaan, sal daarom nie resultate oplewer nie.

Die VF Plus sou graag dieselfde erns oor plaasaanvalle en -moorde van regeringskant wou sien.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.