Die VF Plus het ná klagtes van die inwoners van Harry Dilleystraat in die Groter Tzaneen-plaaslike munisipaliteit (GTM) ingegryp om ondernemings wat onwettig in terme van die Tzaneen-dorpsbeplanningskema van 2000 bedryf word, te sluit.
Die eiendomme in die spesifieke straat is as residensieel gesoneer en nie vir die bedryf van ondernemings nie.
Van die klagtes van inwoners oor van die ondernemings behels onder meer die volgende:
• Erf 667: Moila Driving School
Bestuurslesse veroorsaak ‘n verkeers- en geraasversteuring in die woonbuurt.
• Erf 669: Tzaneen Solid Waste:
Klagtes oor geraasversteuring, veral soggens tussen 07:00 en 09:00 en weer in die middag wanneer werknemers terugkeer. Die gerief is ook nie geskik vir die aantal werkers nie en parkeerplek vir voertuie is onvoldoende.
• Erf 682: Ratatele Lawyers INC.:
Die prokureurspraktyk word bedryf vanaf die perseel, maar daar word ook gereeld bederfbare goedere soos groente en vrugte afgelewer en gestoor.
Op 12 April 2022 het die VF Plus ’n skrywe gerig aan die munisipaliteit se departement vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling en namens inwoners geëis dat ‘n terreininspeksie gedoen word om toe te sien dat bedrywighede onmiddellik gestaak word.
Benjamin Mathebula, direkteur van beplanning en ekonomiese ontwikkeling by die GTM, het in sy antwoord op 20 Mei 2022 aan die VF Plus bevestig dat terreininspeksies gedoen is en dat drie van die erwe inderdaad nie gesoneer is vir die bedrywighede wat daar plaasvind nie.
Oortredingsbriewe is aan die eienaars van die eiendomme gestuur met grasie om binne 14 dae met die waarnemende stadsbeplanner die gebruik van die erwe uit te klaar.
Mathebula het op 6 Junie ook die volgende terugvoer aan die VF Plus gegee:
• Dat ‘n brief aan Moila-bestuurskool gestuur is om alle bedrywighede te staak.
• Dat die eienaar van Tzaneen Solid Waste die waarnemende stadsbeplanner gekontak het en dat ‘n ander perseel geïdentifiseer is waar werknemers voortaan sal aanmeld.
• Dat die eienaar van die regskantoor ‘n stadsbeplanner sal aanstel om die eiendom te hersoneer.
Die VF Plus sal die situasie monitor en verder neem om seker te maak dat die regte prosedures gevolg word voor daar enige hersonering plaasvind.