Die bekendmaking dat president Cyril Ramaphosa nie Donderdag in die parlement self die toespraak van sy begrotingspos sal lewer nie maar dat adj.pres. David Mabuza dit sal doen, is totaal onaanvaarbaar vir die VF Plus.
Pres. Ramaphosa is verantwoordbaar teenoor die parlement van Suid-Afrika.
Hy vra met die begrotingsdebat geld van die belastingbetalers vir die presidensie, maar dan is hy nie self daar om antwoorde te verskaf op vrae van parlementslede nie.
Indien daar ’n goeie rede is waarom hy nie die debat kan bywoon nie, moet dit openlik genoem word.
Dit kan nie ’n kwessie wees van sy dagboek wat dit nie toelaat nie aangesien hierdie afspraak baie belangrik is en die datum lank reeds bepaal is.
Indien die president siek is, of indien daar ’n ander geldige rede vir sy afwesigheid is, moet die presidensie hierdie rede verskaf.
Die VF Plus sal dit oorweeg om ook nie deel te neem aan die debat indien pres. Ramaphosa nie self daar is om sy verantwoordelikheid teen die parlement na te kom nie.
Met hierdie optrede is hy besig om die parlement te ondermyn en dit is onaanvaarbaar.