Die VF Plus sal onder geen omstandighede met die ANC saamwerk nie en om so iets voor te gee, is kwaadwillig en opportunisties.
Dit is daarom betreurenswaardig dat die DA kiesers probeer mislei oor ’n situasie in Emfuleni.
Die feite is dat die ANC in Emfuleni ’n aanbod aan politieke partye gemaak het – ook aan die VF Plus – vir poste op die burgemeesterskomitee van dié plaaslike munisipaliteit. Die VF Plus het dié aanbod van die hand gewys.
Die DA het dié situasie nou op opportunistiese en oneerlike wyse geplooi om die indruk te wek dat die VF Plus bloot weens die aanbod bereid is om met die ANC saam te werk.
Die VF Plus se standpunt oor samewerking met die ANC is deeglik gedokumenteer en goed bekend. Dit is dat daar nie nou óf later enige samewerking of koalisie met die ANC sal wees nie.
Die party sal altyd in die belang van kiesers optree, ook in Emfuleni waar die situasie uiters benard is.
Die munisipaliteit van Emfuleni is bankrot, skuldeisers het sy bankrekeninge laat vries weens uitstaande skuld en daar is feitlik nie sprake van dienslewering nie.
Hierdie is die direkte nalatenskap van die ANC se onbevoegdheid om te regeer. Die VF Plus sal gewis niks doen om die ANC se posisie te versterk en hom in regering te hou nie.
Die VF Plus sal soos elders sy rol as opposisieparty nougeset vertolk en sal alles moontlik doen om inwoners te help te midde van die gebrek aan dienslewering onder die ANC.