"Die onveranderde werkloosheidskoers van 29,1% vir die vierde kwartaal van 2019 is kommerwekkend, maar ‘n groter rede tot kommer is die feit dat die persentasie mense wat vir ‘n jaar of langer werkloos is, oor die afgelope tien jaar met sowat 60% toegeneem het," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.
"Dit bewys die ekonomiese agteruitgang van Suid-Afrika weens swak regering en ondeurdagte beleidsrigtings.
"Dit verduidelik waarom ontmoedigde werksoekers, wat vanaf die derde na die vierde kwartaal van 2019 met 62 000 toegeneem, steeds vermeerder.
"Swak ekonomiese groei en regeringsbeleid soos onteiening sonder vergoeding, nasionale gesondheidsversekering, swak dienslewering, beurtkrag en die ineenstorting van plaaslike regering, lei tot die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika."
"Die departement van arbeid, wie se mandaat ook na werkskepping uitgebrei is, kom soos die regering duidelik nie die mas op nie. Verandering is nou meer nodig as ooit. Daar moet vir eers op ‘n gesonde ekonomie gefokus word. Daarsonder sal die werkloosheidskoers aanhou styg," sê Denner.