Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Staatsrede 2020: Tyd vir praat is verby. President moet nou optree

"Die tyd vir praat oor Suid-Afrika se probleme is verby. Dit sal die land nie meer red nie. Daar moet nou daadwerklik opgetree word," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Daarom is daar groot verwagtinge vir die staatsrede van president Cyril Ramaphosa wat Donderdag plaasvind. Die mense van Suid-Afrika soek nou antwoorde van die president oor verskeie probleme wat die land en sy ekonomie tans lamlê.

"In sy vorige drie staatsredes het die president self die probleme in die land duidelik geïdentifiseer. Dit is onder meer werkloosheid, die ekonomie wat nie groei nie, misdaad en sukkelende staatsondernemings wat belastinggeld opslurp.

"Dit is welbekend en president Ramaphosa hoef dit nie te herhaal nie. Die VF Plus wil hoor wat hy en sy regering gaan doen om hierdie probleme daadwerklik op te los. Ons wil aksie sien en hoor watter praktiese stappe daaromtrent geneem gaan word.

 

"Dit help nie om nog ‘n beraad te hou of nog ‘n kommissie aan te stel nie. Dit help ook nie om te sê daar is geld in die staatsdiens-pensioenfonds om die finansiële probleme by ondernemings soos Eskom en die SAL op te los nie."

 

"Dit is ook vermetel om te sê amptenare hoef nie bekommerd te wees oor hul pensioen nie aangesien die staat sal waarborg dat hul fondse veilig is.

"Indien die geld dan wel beskikbaar is om dit te waarborg, waarom moet die staatsdiens se pensioenfonds in die eerste plek gebruik word om die sukkelende ondernemings te finansier? Dit is totaal onaanvaarbaar.

 

"Daar moet daadwerklike optrede kom oor misdaad en die veiligheid van die mense van Suid-Afrika. Dit help nie die president wys ook hier net op die probleme nie, hy moet planne aankondig om dit op te los."

 

"Die VF Plus is soos die mense van Suid-Afrika moeg vir leë woorde, beloftes en die identifisering van die probleme. Ons wil optrede sien," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.