fbpx
Vryheidsfront Plus

Onteiening sonder vergoeding sal almal benadeel

"Onlangse gebeure in die Vrystaat dien as bewys dat die beginsel van vrywillige koper en verkoper nie die rede vir mislukte grondhervorming is nie," het Jan van Niekerk, VF Plus-leieir in die Vrystaat, gesê.  

Van Niekerk het in sy voorlegging by die openbare deelname-proses in die Vrystaat met betrekking tot die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet gesê fondse wat aangewend kon word om grond vir hervormingsprojekte aan te koop, gaan verlore weens korrupsie en wanbestuur.

Hy sê baie van die grond wat wel aangekoop is, is nie aan nuwe eienaars oorgedra nie en is tans onproduktief.

"Honderde miljoene rande is verlore as gevolg van mislukte regeringsprojekte soos die Vrede Suiwelprojek en die Gariep-Vissery-aanleg. Hierdie projekte en gepaardgaande onreëlmatighede dien as bewys dat die regering verantwoordelik is vir mislukte grondhervorming en nie Artikel 25 van die Grondwet nie.

"Alle Suid-Afrikaners ag die versnelling van grondhervorming laaste op die lys van behoeftes waarop die regering moet fokus"

 

"Die Vrystaat is die voedselmandjie van Suid-Afrika waar kommersiële landbouers voedsel vir die land se bevolking produseer en werk vir miljoene skep.

"Beide die ANC en die EFF is nie in pas met Suid-Afrikaners se behoeftes nie en dwangvoer die land met ‘n verdelende diskoers oor onteiening sonder vergoeding wat geen oplossings bied nie.

"Die realiteit in die Vrystaat is dat die provinsie se werkloosheidsyfer jaar na jaar die hoogste in die land is weens die ANC se beheptheid om burgers so afhanklik as moontlik van die staat te maak. Die ANC-regering faal om ekonomiese groei in die Vrystaat en veral in landelike gebiede te bewerkstellig. Die rede hiervoor is juis populistiese beleid soos onteiening sonder vergoeding en swak dienslewering.

"Artikel 25 van die Grondwet is vir elke Suid-Afrikaner belangrik. Sonder die internasionaal-erkende reg tot eienaarskap (wat alle bates insluit) sal alle Suid-Afrikaners die gevaar loop om hulle vryhede te verloor.

"Indien dit uit die Grondwet verwyder word, sal grond en eiendom aan niemand behoort nie en altyd in staatsbesit bly.

"Boere is nie die sondebokke nie; populistiese politici met goedkoop en onvolhoubare oplossings is"

 

"Die ANC gebruik die beplande wysiging van Artikel 25 van die Grondwet as rookskerm om sy mislukkings van die afgelope 24 jaar weg te steek," het van Niekerk gesê.

Onlangse navorsing deur die Instituut vir Rasseverhouding toon alle Suid-Afrikaners ag die versnelling van grondhervorming laaste op die lys van behoeftes waarop die regering moet fokus. 

In die navorsing het Suid-Afrikaners werkskepping (eerste) en beter onderwys (tweede) as die belangrikste gebiede waarop die regering veronderstel is om te fokus, gelys. 

Swartmense as groep in die steekproef het ook grond as laagste prioriteit geag.

Van Niekerk sê die ANC en EFF is duidelik nie besig om Suid-Afrikaners se belange op die hart te dra nie en blameer wit grondeienaars as die enigste oorsaak van die land se ongelykhede.

"Leuens oor witmense wat grond in Suid-Afrika gesteel het, kan met aktes en dokumente weerlê word. 

"Boere, wat na twee eeue net so deel is van Afrika, is nie die sondebokke nie; populistiese politici met goedkoop en onvolhoubare oplossings is wel.

"Indien artikel 25 van die Grondwet geskraap word, sal dit die eerste stap wees om Suid-Afrikaners se vryheid om verantwoordelikheid vir sy of haar eie lewe te neem en om sy of haar eie omstandighede te verbeter, weg te neem," het Van Niekerk gesê.

Die VF Plus sal voortgaan om die wysiging teen te staan en te verseker dat die reg tot eienaarskap behoue bly.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.