"Onreëlmatige besteding van R1,2 miljard in Gauteng se onderwysdepartement wys duidelik dat die onderwys-LUR, Panyaza Lesufi, dringend aandag moet skenk aan sy departement en hom nie moet ophou met voortdurende rassistiese opstoking wat sy aandag van sy werk aflei nie," sê Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en LPW in Gauteng.
"Dit blyk dat die onreëlmatige besteding te make het met onreëlmatighede in die toekenning van tenders in die 2018/2019-boekjaar.
"Die uitgawes hou verband met ‘n skoolvoedingsprojek wat in Desember 2016 toegeken is en eers oor twee maande verstryk. Die provinsiale forensiese eenheid het die ongerymdhede in ‘n ondersoek blootgelê.
"Hierdie skandaal volg kort op die hakke van die bekendmaking van inligting dat die Gautengse ondewysdepartement meer as ‘n miljard rand in die vorige boekjaar onderbestee het."
"Net die twee bostaande gevalle wys reeds op ‘n bedrag van meer as R2 miljard wat wanbestee is of glad nie bestee is nie terwyl daar groot infrastruktuur-agterstande in die provinsie is omdat bykomende skole nie gebou word nie.
"Om hierdie swak bestuur en ongerymdhede onder sy leierskap te beredder, probeer Lesufi op arrogante wyse om Afrikaanse skole te teiken en te verengels deur nie-Afrikaanssprekende leerlinge op die skole af te dwing."
"Die LUR doen dit deurlopend, selfs al weet hy dit is onwettig, soos gebeur het by die Overvaal Hoërskool waar sy eie departement se amptenare twee ander skole se hoofde onder eed laat verklaar het dat hul skole vol is terwyl dit nie die geval was nie.
"In vorige jare het dieselfde scenario hom afgespeel toe groot begrotings nie gebruik is nie, maar druk op Afrikaanse skole geplaas is met die verskoning dat daar nie genoeg skole is nie.
"Die VF Plus is besig met ondersoeke rakende ander ongerymdhede teen Lesufi en sal binnekort by verskeie instansies klagte teen hom indien om toe te sien dat die departement ‘n nuwe leier kry wat bevoeg is en omgee vir die leerders van Gauteng.
"Intussen eis die VF Plus eis dat die LUR onmiddellik afgedank word en die party sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat hy nie in die pos aanbly nie," sê Alberts.