Tenderbedrog en geldvermorsing in die departement van openbare werke en infrastruktuur het ‘n tendens geraak wat stopgesit moet word.
Twee jaar gelede was daar die Beitbrug-grensdraad skandaal. Daarna die ongerymdhede met private kwarantyngeriewe en buitensporige aankope met Covid-19 wat bykans R82 miljoen beloop het. Toe die R76 miljoen wat op staatsbegrafnisse bestee is.
Nou is daar volgens die ouditeur-generaal (OG) weer omvattende tenderbedrog met die herbou van staatseiendom in KwaZulu-Natal wat verwoes is in die oorstromings vroeër vanjaar.
Volgens die OG sluit die onreëlmatighede onder meer tenders in wat uitgereik is aan maatskappye wat deur dieselfde persoon besit word; diensverskaffers wat vir die staat werk of nie op die regering se databasis is nie; kwotasies wat ontvang is nadat werk reeds begin het en vyf tenders van meer as R1 miljoen wat aan dieselfde diensverskaffer toegeken.
Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek tans ook tenders wat glo te doen het met die opknapping van amptelike wonings en verblyf asook vir opknappingswerk wat gedoen is aan die Marks- en Pleinstraatgeboue op die parlementêre perseel in Kaapstad.
Die VF Plus het reeds in Maart vanjaar daarop gewys dat die minister van openbare werke en infrastruktuur, me. Patricia de Lille, artikel 27(2)(L) van die Rampbestuurswet oortree het met die oprig van die Beitbrug-grensdraad.
Dit blyk nou dat ongerymdhede in hierdie departement ‘n tendens gevorm het.
Die VF Plus doen opnuut ‘n beroep op die minister om te bedank aangesien sy oënskynlik geen beheer het oor besteding in haar departement nie.
Onder haar beheer het die departement tot in sy wortels verrot. Sy het duidelik haar politieke oorsigrol versaak en moet ten volle vir dié stand van sake verantwoordelik gehou word.